|

Solidariteit sê #StemNee teen Discovery se nuwe gedragsbank

Discovery het tans sowat 1,65 miljoen kliënte, waarvan omtrent 600 000 wit is. Dít beteken hulle verseker byna 1,2 miljoen mense se lewens. As dié reuse deel van hul kliëntebasis nie inkoop in hul nuwe bank nie, gaan hulle misluk.

Só meen Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut. Dié vakbond het vandag tydens ’n mediakonferensie hul #StemNee-veldtog teen Discovery Bank geloods.

Dít volg nadat Discovery verlede jaar ’n aankondiging gemaak het dat swart deponeerders gratis aandele in sy nuwe bank sou ontvang, terwyl wit deponeerders nie dieselfde voordeel sou kry nie.

“Met Discovery se nuwe ‘gedragsbank’ word jy nie net volgens jou gedrag beloon nie, maar ook volgens jou ras. Dít kan op geen manier geregverdig word nie,” meen dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Volgens Hermann is die idee van ’n nuwe-generasie bank wat kliënte se finansiële gedrag beloon uiters innoverend, maar dat rasgebaseerde-voordele ’n baie ou, uitgediende idee is.

“Sonder om te blik of te bloos het Discovery homself in ’n staatsdepartement verander. Discovery het dieselfde rasse-ideologie as dié van die regering aangeneem –  een waar jou waarde in jou velkleur gesetel is.”
Discovery het verlede jaar met Solidariteit en AfriForum in gesprek getree om hul “bemagtigingskema” te verduidelik.

Volgens Hermann het Adrian Gore, uitvoerende hoof van Discovery, gesê dat die maatskappy deur die Reserwebank gedruk word om met die proses voort te gaan. “Ons verwag egter van hulle om terug te druk,” meen Hermann.

Discovery Bank is verlede jaar bekend gestel en begin in Maart 2019 sake doen. Solidariteit wil wanneer die bank amptelik begin, die resultaat van sy “nee-stemme”-veldtog oorhandig.

“Ons moet ’n baie duidelike ‘nee’-boodskap oordra en sê daar is nie plek vir ’n rassebank in Suid-Afrika nie. Ons sê nee; nee vir ongelyke behandeling, nee vir dubbele standaarde en nee vir Discovery se plan om wit kliënte ongelyk te hanteer bloot op grond van hul ras. Ons soek alternatiewe en inklusiewe oplossings van Discovery,” meen Hermann.

Besoek die skakel – https://solidariteit.co.za/discovery-veldtog/ of SMS “nee” na 34802 om die veldtog te ondersteun.

 

Soortgelyke plasings