|

Solidariteit stel grootste opstaanprojek in 118 jaar bekend

 

Deur Alet Rademeyer

Solidariteit het vandag die grootste “opstaanprojek” in sy geskiedenis van 118 jaar met ’n begroting van R4,8 miljard in Pretoria bekend gestel.

Die omvattende Werkherstelprogram sal oor vyf jaar geïmplementeer word en het ten doel om oplossings vir versnelde staatsverval en ekonomiese ineenstorting ná COVID-19 te bied.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die pandemie het die krisis in die land op vele terreine versnel. “Ons moet onsself nou dringend afvra wat met ons geslag gaan gebeur? Gaan ons ontbind of verkrummel of gaan ons antwoorde op die krisis kry?”

Hy meen die antwoord en oplossing lê in Solidariteit se Werkherstelprogram met die slagspreuk #OnsSalSelf en die tientalle werksaamhede waarmee die Solidariteit Beweging se onderskeie instellings besig is.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, meen dit is krities noodsaaklik dat die land se werkmag vergroot moet word om ekonomiese uitdagings die hoof te bied. “Die welstand van ’n land word deur sy werkmag bepaal. ’n Goed opgeleide werkmag is noodsaaklik vir ’n land om te slaag.

“Suid-Afrika is in ’n dilemma in die sin dat net 24% van die land se mense werk. Dit is onmoontlik dat 14 miljoen mense volhoubaar vir 60 miljoen kan sorg. Gegewe die hoë werkloosheidsyfer en armoede kan ons nie langer vir die regering wag nie. Ons sal self moet begin werk.”

Volgens Hermann berus die Werkherstelprogram op drie bene naamlik werk, welstand en opleiding.

In die werkplek fokus die Werkherstelprogram op ’n gesonde terugkeer na die werkplek waar die vakbond se kennis van die veld van beroepsgesondheid en –veiligheid benut sal word om werkgewers by te staan. Gegewe veranderde omstandighede ná die pandemie sal gesonde arbeidsverhoudinge gevestig moet word ten einde werksgeleenthede te beskerm en sakeondernemings toe te laat om te bly funksioneer.

Solidariteit-lede wat deel is van die Solidariteit Netwerk sal ook bygestaan word in die afronding van vaardighede en kennis asook voortgesette leer om die werksoekproses makliker te maak.

’n Nuwe interaktiewe werkplatform is op pad waar werkplasings, mentorskappe, internskappe, opleiding en dienste gefasiliteer gaan word.

Dié platform gaan ’n virtuele gemeenskap skep waar mense mekaar kan help om te werk. Dit sluit ook aan by die burgerregte-organisasie AfriForum se AfriForum Sakenetwerk waar meer as 15 000 ondernemings reeds gratis op ’n databasis gelys is. Dié netwerk het ten doel om Afrikaners aan te moedig om mekaar se ondernemings te ondersteun.

Wat die welstandsbeen betref, sien Solidariteit sy lede nie net as werkers nie, maar ook as mense wat deel van ’n gesin en gemeenskap is. Die maatskaplike gevolge van die krisis is omvangryk en daarom het Solidariteit ’n maatskaplike oorbruggingsplan as deel van die Werkherstelprojek bekend gestel. ’n Kern beginsel van die plan is veerkragtigheid sodat mense met kennis, moed en ekonomiese kapasiteit toegerus kan word om nuwe geleenthede te skep.

Finansiële welstand is net so belangrik en Solidariteit het ’n plan vir persoonlike finansiële bestuur vir sy lede ontwikkel.

Opleiding is die derde been van die Werkherstelprojek en fokus daarop om jongmense vir die toekoms en werkplek toe te rus. In dié opsig gaan Sol Tech, Akademia en Solidariteit se wolkskool baie uitbrei.

Akademia begin in 2021 vir die eerste keer met ’n voltydse kontakkampusmodel in Centurion. Daar is reeds ses geakkrediteerde grade daarvoor. Die geriewe vir kontakklasse sal 1 800 studente kan akkommodeer.

’n Splinternuwe kampus, wat sowat R1,5 miljard sal kos, is ook in pyplyn en Akademia beplan om teen 2024 ’n totaal van bykans 5 400 ingeskrewe studente te hê.

Sol Tech se nuwe kampus naby die Waterkloof-lugmagbasis is byna voltooi en sal na verwagting in Februarie 2021 volstoom met onderrig en opleiding kan voortgaan. ’n Koshuis met plek vir 400 studente word ook in die vooruitsig gestel. Sol Tech is ’n voorkeur-opleidingskollege vir ambagte en 94,7% van studente kry suksesvol werk.

Wat die wolkskool betref, is meer as 30 000 onderwysers tydens die staat van inperking aanlyn opgelei, terwyl 7 000 matrikulante en 120 000 skoliere programme aanlyn benut het.

Die Werkherstelprojek het ook sy eie lied, Ons Sal Self, gekry waarby 16 bekende kunstenaars betrokke is.

Hermann sê dit is bevrydend om te weet dat Afrikaners nie van die staat afhanklik is vir hul toekoms nie en dat een van die antwoorde is dat hulle hulself uit hierdie krisis sal kan werk.

*Hooffoto: Okay Deer

Soortgelyke plasings