|

SOS gee raad oor hoe regering en departement matriekuitslae kan verbeter

Die jaarlikse matriekuitslae moet as ’n barometer gebruik word en skoolverlaters moet eerder met vaardighede en kennis toegerus word om hul plek in die samelewing en ekonomie vol te staan. Dit help nie om standaarde te verlaag in ’n poging om ’n beter slaagsyfer te behaal nie.

Só lui een van die aanbevelings in ’n verslag van die Solidariteit Beweging se Skole Ondersteuningsentrum (SOS) wat vandag in Centurion vrygestel is. Die SOS het ’n in-diepte ontleding van die 2019-matriekuitslae gemaak, met ’n spesiale fokus op die resultate van Afrikaanse skole.

Die SOS meen meer geleenthede moet vir skoolverlaters geskep word. Universiteite se deurvloeisyfers moet verbeter en die standaard van tegniese en beroepsopleiding moet verhoog word. Voorts moet die regering moedertaalonderrig as grondwetlike reg en ideaal erken aangesien die uitslae van Afrikaanse skole dit bevestig.

Luidens die verslag het Afrikaanse skole se sterk leerkultuur weer in 2019 uitnemende prestasie moontlik gemaak. Byna die helfte (49,9%) van kandidate in Afrikaanse skole het toegang tot graadstudie gekry. Daarbenewens is nege van die 20 skole in die land wat die meeste onderskeidings opgelewer het Afrikaanse skole. Altesame 186 058 kandidate het toegang tot graadstudie gekry.

Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS, sê die studie toon Afrikaanse skole is die vlagdraers van uitnemendheid. “Dié skole is maar 10,2% van alle skole en die uitslae toon 36% van die topskole is Afrikaanse skole.”

Hy het ook verwys na Afrikaanse skole in Pretoria soos die Afrikaanse Hoër Meisieskool, Hoërskool Garsfontein, Hoërskool Menlopark en Hoërskool Waterkloof wat die topskole met die meeste onderskeidings landwyd is.

Die SOS het wel kritiek gehad op die matriekuitvalkoers van leerlinge in gr. 12 en meen dit bied ernstige stof tot nadenke. Volgens die departement van basiese onderwys was daar in Januarie 2019 altesame 616 754 heeltydse kandidate ingeskryf om die nasionale senior sertifikaateksamen af te lê. Slegs 504 303 het wel die eksamen geskryf wat beteken 112 451 (oftewel 18%) het voor die eindeksamen “verdwyn”. Indien die getal by die getal druipelinge (94 397) getel word, is die slaagsyfer in werklikheid slegs 66,5%.

Volgens die departement was die nasionale slaagsyfer verlede jaar 81,3%.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS, sê Suid-Afrika het egter steeds “twee skoolstelsels”, naamlik die 20%-skole wat deurlopend goed presteer en 100%-slaagsyfer behaal en die 80% ander waarvan sommige wel besig is om te verbeter. Die 16 skole wat in die 2019-eindeksamen egter ’n 0%-slaagsyfer behaal het, is baie kommerwekkend en bied geen toekoms vir dié leerlinge nie.

Buys het ook haar kommer uitgespreek oor die afname in leerlinge wat sogenaamde welvaartskeppende vakke soos wiskunde, wetenskap en rekeningkunde neem. Sowat 14 100 minder kandidate het verlede jaar wiskunde geneem as in 2018. Van die 504 303 matrikulante het 222 034 wiskunde geneem. Hiervan het 121 179 geslaag en net 4 415 het onderskeidings in dié vak behaal.

Wat prestasie in rekeningkunde betref, het 80 110 die vak geskryf en 78,4% het geslaag. Altesame 301 037 kandidate het lewenswetenskappe geskryf en 72,3% het geslaag. Altesame 164 478 kandidate het fisiese wetenskappe geneem en 75,5% het deurgekom.

Daan Potgieter, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), het gesê die prestasie van Afrikaanse leerlinge dui op die belangrikheid van moedertaalonderrig. Hy meen alles moontlik moet in die stryd gewerp word om Afrikaanse skole te behou, te beskerm en toe te rus om met uitnemende onderrig voort te gaan. “Veral plattelandse skole is onder geweldige druk en die rol van onderwysleierskap, personeel en gemeenskapsbetrokkenheid by dié skole kan nie genoeg beklemtoon word nie.”

Soortgelyke plasings