|

Spring nou om Heuwels Fantasties by Dubbel & Dwars Afrikaanse musiekfees te sien

Dubbel-Dwars---temp

Liefhebbers van Afrikaanse musiek het nog net ’n paar uur oor om kaartjies op te raap vir die Dubbel & Dwars Afrikaanse musiekfees wat Bloemfontein Donderdagaand gaan skud.Die fees word gehou na afloop van die onlangse aanslag op Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit van die Vrystaat (UV). Die vakbond Solidariteit het verlede maand ’n omvattende veldtog vir die behoud van Afrikaans by die universiteit van stapel gestuur nadat die prof. Jonathan Jansen, rektor van UV, sy ondersteuning vir die wegdoen van Afrikaans as onderrigtaal bekend gemaak het.

AfriForum Jeug het besluit om ’n musiekfees aan te bied ter bevordering van Afrikaans op Kovsies.

Verskeie kunstenaars soos Die Heuwels Fantasties, Klopjag, Beeskraal, K2 en SAARKIE gaan by Wiesbaden optree. Kaartjies is beskikbaar http://itickets.co.za/events/348409.html

“Deur die fees by te woon, wys Afrikaanse studente dat hulle sal voet neersit teen die afskaffing of afskaling van Afrikaans op universiteitsvlak.

“Studente het ’n grondwetlike reg om in hul moedertaal te studeer en hulle moet dit opeis.

“Dit beloof om musiek uit die boonste rakke te wees en ons gaan baie lekker kuier. Studente moet Donderdagaand ’n blaaskans van die boeke vat en na musiek in hul eie taal kom luister,” sê Monique du Randt, woordvoerder van AfriForum Jeug.

Sallas de Jager van die Afrikaanse musiekgroep Klopjag het gesê hulle sien baie na die optrede uit. “Ons toer deesdae baie minder en dus sien mense ons nie meer so baie buite Gauteng nie. Ek dink dit gaan baie lekker wees.”

De Jager is ’n trotse ondersteuner van Afrikaans en beskryf dit as die taal waarin hy graag dink, skryf, lag, huil, liefde gee en ontvang.

Elize Fouche, woordvoerder van die vroue musiektrio SAARKIE, wat ook lede van AfriForum is, het gesê hulle is ook bereid om vir Afrikaans op te staan en te baklei.

 

Soortgelyke plasings