|

Springs-gemeenskap staan saam in nood en teen misdaad en munisipale bestuurder

Die gemeenskap van Endicott aan die Oos-Rand het onlangs gewys wat vermag kan word as mense saamstaan en mekaar ondersteun.

Die Springs-buurt- en -plaaswag in die Endicott-gebied het talle suksesse behaal en gehelp dat misdadigers ook aangekeer word. Klopjagte is in samewerking met die SAPD uitgevoer wat tot die arrestasie van 14 oortreders, waaronder 12 onwettige myners, gelei het. Bystand is ook gelewer in die soektog na gewapende rowers.

In een voorval het ’n dief ’n plaashek gesteel en die buurt- en plaaswag het dit aan die eienaar terugbesorg.

Die buurt- en plaaswag het ook bystand met ’n waterkar gebied tydens 34 veldbrande in die Endicott-gemeenskap. Mediese bystand is tydens twee tref-en-trap-voorvalle gelewer en die TrackBox-toep is gebruik om nooddienste te ontbied.

Die tak het ook op ander terreine gewoeker en 67 komberse is vir die plaaslike gemeenskap ingesamel. Meer as 60 nuwe huisnommers is ook by wonings in die Endicott-gemeenskap aangebring, terwyl die vloere by ’n ouetehuis ook oorgedoen is.

Die tak het ook strafregtelike klagtes teen dr. Imogen Mashazi, munisipale bestuurder van die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit, ingedien. Dié klagtes handel oor die swak munisipale bestuur en besoedeling van die Blesbokspruit.

Ná verskeie klagtes vanuit die gemeenskap ontvang is oor rioolstorting in die Blesbokspruit, het die tak besluit om in te gryp. Strafregtelike klagtes is ingevolge Artikel 151 van die Nasionale Waterwet, 1998 (wetno. 36 van 1998) – wat bepaal dat enige persoon wat water en waterbronne opsetlik besoedel daarvoor aanspreeklik gehou moet word – aanhangig gemaak.

Die indiening van die klagtes volg ook nadat die tak reeds verskeie pogings aangewend het om met Mashazi te vergader, asook ’n petisie van stapel gestuur het en skrywes aan die munisipaliteit oorhandig het. Hierdie pogings word egter al vir langer as twee jaar geïgnoreer, selfs nadat die Suid-Afrikaanse Nasionale Akkreditasiestelsel (Sanas) se geakkrediteerde watertoetse, wat AfriForum uitgevoer het, duidelik aan die munisipaliteit toon dat die E.coli-vlakke onregmatig hoog is.

Artikel 24(a) van die Grondwet bepaal dat almal geregtig is op ’n omgewing wat hul gesondheid en welstand in ag neem en dat die omgewing ook vir toekomstige generasies beskerm moet word. Volgens Cornel Swart, voorsitter van AfriForum se Springs-tak, word geen aandag egter aan hierdie probleem geskenk nie. “Die Blesbokspruit is ’n voedingsaar vir die Vaalrivier en verskeie inwoners van die informele nedersetting gebruik daagliks van hierdie besoedelde water. Boonop word die Blesbokspruit gereeld met onbehandelde riool besoedel en die tak het foto’s as bewyse by die klagtes gevoeg.”

Swart sê dat swak munisipale bestuur en instandhouding die besoedeling veroorsaak en dat die skuldige partye daarvoor aanspreeklik gehou moet word. “Die munisipaliteit is veronderstel om ons belastinggeld aan te wend om die rioolwerke in stand te hou, op te gradeer waar nodig en te verseker dat onbehandelde riool nie die omgewing besoedel nie. Die saak is by die SAPD aanhangig gemaak en ons het bevestiging ontvang dat die klagtes aan die Groen Skerpioene oorhandig is vir verdere ondersoek. Ons sal voortdurend met die ondersoekbeampte opvolg om vordering van die saak te moniteer.”

Oor die ander suksesse sê Swart dit is voorwaar uitstekende voorbeelde van gemeenskapslede wat self daad by die woord voeg en proaktief misdaad bekamp en die gemeenskap bystaan. “Ons sal in samewerking met die SAPD voortgaan om ons gemeenskap te beveilig. Gemeenskapsbetrokkenheid speel ’n groot rol in Springs en ons moedig die publiek aan om by bestaande strukture betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak.”

*Hooffoto: Cornel Swart, voorsitter van die AfriForum Springs-tak, Morné Greyling, veiligheidsvoorsitter en Annette van Lil, sekretaresse, van dieselfde tak, voor die polisiestasie.

Soortgelyke plasings