|

SR-verkiesings vanjaar belangriker as ooit

AfriForum Jeug wil alle universiteitstudente aanmoedig om vanjaar te stem vir die verteenwoordigende studenteraad (VSR) by die Universiteit van Pretoria (UP), die Universiteit van die Vrystaat (UV), die Universiteit van Stellenbosch (US), asook die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus (NWU-Pukke).

Volgens die burgerregte-organisasie se jeugvleuel is dit van kritiese belang dat studente vanjaar hul stemme moet laat hoor, nadat meer as R450 miljoen se skade verlede jaar deur faksiegroepe op universiteitskampusse landwyd aangerig is.

Morné Mostert, nasionale woordvoerder vir AfriForum Jeug, het aan Forum Nuus gesê dat geweld, vandalisme en klasontwrigting sedert verlede jaar se #Feesmustfall-veldtog oorgespoel het na verskeie universiteitskampusse en landboukolleges omdat studenterade nie die hele studentebevolking se belange in ag geneem het nie, maar eerder opgetree het as die politieke en ideologiese stemme vir hul onderskeie partye.

“Talle SR-lede het aan hierdie onaanvaarbare en vernielsugtige optrede deelgeneem. As ’n jeugorganisasie, wat glo in goeie waardes en wedersydse respek kan ons dit nie langer toelaat nie.”

Volgens Mostert is ʼn studenteraad se verpligting om kampusse op te bou en nie af te beek nie.

“Die studenteraad moet namens alle studente optree en hulle op die hoogste bestuursvlakke soos die raad en senaat verteenwoordig. Ons glo nie dat vanjaar se geweld op kampusse ʼn weerspieëling van die gedrag van die totale studentebevolking was nie. Dit was eerder die optrede van ’n paar radikale groepe,” meen Mostert.

Hy sê dat AfriForum Jeug dus kandidate kies wat beginselvas is, Christelike waardes uitleef en ʼn liefde vir hul taal en kultuur het.

“Studente moet stem vir ’n studenteraad wat alle studente se belange op die hart dra om van dit ’n instelling van uitnemendheid te maak.”

Hy het voorts gesê AfriForum Jeug se kandidate ondersteun gesonde studente-aktiwiteite en moedertaalonderrig.

“Ons kandidate is daarop gefokus om oplossing te soek vir verskeie ekonomiese en sosiale uitdagings wat op kampusse ontstaan en wil kampusse hê waar nie net radikale studente se stemme gehoor word nie.”

Die uitbring van stemme begin op 1 Augustus by die NWU-Pukke, 2 Augustus by die US, 13 Augustus by die UV en 13 September by die UP.

Soortgelyke plasings