|

Staat van inperking: AfriForum verwelkom verslapping

AfriForum verwelkom die aankondiging deur pres. Cyril Ramaphosa vanaand dat die staat van inperking op Vrydag, 1 Mei 2020 na vlak 4 verslap sal word.

Die burgerregteorganisasie is egter bekommerd dat die verslappingsmaatreëls nog nie bekend gemaak is nie, maar sal voortgaan om die situasie te moniteer. AfriForum is van mening dat die regering se reaksie op die COVID-19-pandemie nie gebalanseerd is nie en in sommige gevalle groter krisisse as oplossings tot gevolg gehad het en sê voorts dat meer mense in die proses van hongersnood gaan sterf as van die virus self.

Die organisasie spreek hom ook sterk uit teen drakoniese maatreëls wat tans deur die staat afgedwing word, waaronder die Departement van Toerisme se gebruik van ras as maatstaf vir die toekenning van COVID-19-hulp aan toerisme-ondernemings; regulasies wat die staat mag gee om enigeen te vervolg wat positief getoets het vir COVID-19 en weier om na ’n regeringsbeheerde kwarantynkamp vir COVID-19-pasiënte te gaan; én regulasies wat gemeenskappe verhoed om na hulle eie veiligheid om te sien deur middel van gemeenskapsveiligheidinisiatiewe soos buurtwagte en gemeenskapspolisiëringsforums.

AfriForum sal voortgaan om magsvergrype deur die staat te beveg en ook praktiese maatreëls voorlê om die staat van inperking verantwoordelik te verslap.

Soortgelyke plasings