|

Staat weier om inwoners in kwarantynkamp te toets

AfriForum het vandag gereël dat ’n span privaat mediese dienste die haglike Zithabeseni-kwarantynkamp naby Groblersdal besoek om sowat 107 inwoners wat nié deur die staat vir COVID-19 getoets is nie, op eie onkoste te toets. Nie net is die privaat mediese span toegang geweier en van die perseel af verwyder nie, maar die SAPD het ook versterkings ingeroep om toe te sien dat hulle nie terugkeer nie.

Dít volg nadat die regering vir inwoners gesê dat hulle op hierdie stadium nie deur die staat getoets kan word nie en dat hulle steeds in die kwarantynkamp aangehou sal word ten spyte daarvan dat hulle nie weet of hulle die virus het of nie. Hulle mag ook nie in self-isolasie by hul huise bly of hulleself privaat en op eie onkoste laat toets nie.

AfriForum staan inwoners by wat tans teen hul wil in dié kamp aangehou word. Onder dié inwoners is Dr. Leon Nel, sy vrou Melanie en hul twee kinders. Hulle is hierheen gebring nadat hulle onlangs met vakansie in Mosambiek was – waar hulle vir vyf weke lank in self-isolasie was en met amptenare van die Suid-Afrikaanse Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking in Mosambiek oor hul terugkeer gekonsulteer het.

Dr. Nel, ’n veearts, het in ’n telefoniese onderhoud gesê die geriewe by die kamp is glad nie op standaard nie en hy vrees dat hy en sy gesin hier baie siek kan word. Hy het ook foto’s en beeldmateriaal aan AfriForum gestuur.

AfriForum het gevolglik ’n dringende skrywe aan die ministers van Gesondheid en van Internasionale Betrekkinge en Samewerking gestuur oor die haglike omstandighede waarin inwoners van dié kamp moet woon. Die burgerregteorganisasie het ook geëis dat die SAPD gehoor gee aan die gesin se wens om vir die virus getoets te word sodat hulle vrygelaat kan word en hulself kan isoleer indien nodig.

“Hierdie is ’n skreiende skending van mense se basiese vryhede. Hierdie mense is vir alle basiese doeleindes gevangenes. Nie net voldoen die fasiliteit nie aan die nodige standaarde soos deur die WGO uiteengesit nie, maar word die mense teen hulle wil daar gehou – ten spyte daarvan dat hulle nie vir COVID-19 getoets is nie. Nou word daar boonop vir hulle gesê dat hulle nie glad nie getoets mag word nie. Dis ’n drakoniese menseregteskending wat AfriForum in die hof sal beveg, ” sê Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie.

AfriForum het reeds met sy regspan gekonsulteer en die saak is op die hofrol van die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria geplaas om op Woensdag, 6 Mei 2020 aangehoor te word.

Soortgelyke plasings