|

Staatshulpbronne word misbruik om individue te vervolg wat korrupsie teenstaan

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n omvattende verslag vrygestel waarin talle hooggeplaastes in regeringsringe geïmpliseer word in die beweerde kaping van die Suid-Afrikaanse strafregstelsel.

Die forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan, het op ’n nuuskonferensie by AfriForum se hoofkantoor, dokumente voorgehou wat wys hoe sekere individue in die strafregstelsel hul mag en invloed misbruik om korrupsie toe te smeer en ondersoeke te ontspoor. ’n Verslag getiteld: Joining the Dots is vrygestel.

O’Sullivan beweer pres. Jacob Zuma het beheer oor die strafregstelsel verkry in ’n poging om self strafregtelike klagtes vry te spring en in die proses ook sy familie en ander na aan hom te beskerm.

Hy het verwys na talle strafregtelike klagtes wat in die onlangse verlede teen korrupte individue aanhangig gemaak is, maar waarvan niks tot dusver gekom het nie. Daarom is besluit om die verslag vry te stel wat onder meer aan die Openbare Beskermer, die Onafhanklike Polisieondersoek Direktoraat (Opod), die Helen Suzman Stigting en Freedom Under Law gestuur sal word. Dit sal waarskynlik ook onder die Internasionale Strafhof se aandag gebring word.

Met verwysing na die verkwisting van belastingbetalers se geld op “lastige” litigasie het O’Sullivan gesê dié sowat R17 miljoen kon eerder gebruik geword het om 1 200 studente vir ’n jaar lank aan Unisa te laat studeer.

In sy voorlegging oor kaping van die strafregstelsel is benewens Zuma, ook die name van individue soos lt.genl. Vinesh Moonoo, afgetrede nasionale speurhoof van die polisie, lt.genl. Mthandaza Ntlemeza, hoof van die Valke, maj. genl. Prince Mokotedi, hoof van die Valke in Gauteng, Nkosinathi Nhleko, minister van polisie, adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolgings, en die omstrede lt.genl. Richard Mdluli, hoof van misdaadintelligensie, genoem. Mdluli is reeds die afgelope ses jaar op betaalde verlof.

O’Sullivan het gesê daar is ’n toename in onregmatige aanvalle op goeie individue in die strafregstelsel, maar ook op gewone mense soos hy wat korrupsie aan die kaak wil stel. “Aanvalle word op goeie mense in die stelsel gedoen om hulle te diskrediteer en die korruptes in die proses te beskerm.”

In dié opsig het hy verwys na die onlangse aanslae op Pravin Gordhan, minister van finansies, die chaos by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en bewerings en aanslae rondom ’n sogenaamde Rogue-ondersoekeenheid binne die SAID. “’n Blinde kon sien dat die saak teen Gordhan nie gewen kon word nie. Abrahams is nie onskuldig nie en hy moes baie dieper ondersoek ingestel het voordat hy aangekondig het dat Gordhan vervolg gaan word.”

O’Sullivan het gewaarsku dat indien niks aan die beweerde kaping van die strafregstelsel gedoen word nie en korrupte individue voortgaan om die septer te swaai, Suid-Afrika ’n polisiestaat kan word waar slagoffers deur werknemers van die staat vermoor word, soos in Mexiko.

O’Sullivan het gesê hoewel daar baie goeie mans en vroue in die polisie is wat hard probeer om misdaad te bestry, kry Zuma dit egter reg dat dié goeie leeus deur korrupte donkies gelei word.

Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, het gesê individue wat by die beweerde kaping van die strafregstelsel betrek word, moet strafregtelike klagtes in die gesig staar indien hulle onwettig en/of met opset “vergoeding” gekry het om te help dat strafregtelike klagtes teen Zuma, en/of sy familie en hul vennote ontspoor.

Die publiek wat AfriForum se stryd teen korrupsie wil ondersteun, kan ’n SMS met hul naam en “korrupsie” stuur na 38312 om R10 tot die teenkorrupsiefonds by te dra.

 

Soortgelyke plasings