|

Stasiebevelvoerder wat pa in plaasmoord verloor, ontvang memorandum

Een van die meer as 100 memorandums waarin geëis word dat plaasmoorde deur die regering geprioritiseer word, is verlede week aan ’n stasiebevelvoerder in die Noord-Kaap oorhandig wat self sy pa in ’n plaasaanval verloor het.

Sarel Stone, voorsitter van die AfriForum-tak in Springbok, het die memorandum aan lt.kol. Albie Kotze, stasiebevelvoerder op Springbok, oorhandig.

“Dit was vir ons albei ’n baie emosionele oomblik. Lt.kol. Kotze se pa, Fanie, is in Mei 2008 op hul familieplaas in die Garies-distrik in Namakwaland vermoor. Hy was 67 jaar oud.

“Hoewel twee aanvallers destyds in hegtenis geneem is en onderskeidelik 25 en 22 jaar tronkstraf uitdien, bly dit ’n tragedie en traumatiese ondervinding waaroor ’n mens nooit kom nie

“Dit was vir my en Albie, aan wie ek die memorandum vir die tweede agtereenvolgende jaar oorhandig het, ’n emosionele en hartseer oomblik. In die nege jaar wat verby is, kon dié wonde steeds nie heel nie,” sê Stone.

Die memorandums is landwyd deur AfriForum-takke by verskeie polisiestasies ingedien as deel van die burgerregte-organisasie se omvattende veldtog teen plaasmoorde en plaasaanvalle.

Sowat 35 memorandums is óók by Suid-Afrikaanse ambassades in die buiteland ingedien.

AfriForum en Solidariteit, sowel as die landbou-unie TLU SA, die DA, die VF Plus en Cope het hul name by dié memorandum gevoeg.

Die organisasies het ook Saterdag aan ’n massa-optog teen plaasmoorde deelgeneem waar ’n memorandum met bepaalde eise aan die regering oorhandig is.

Meer as duisend mense het in gietende reën aan die optog van die Pretoriase Kunsmuseum na die Uniegebou deelgeneem.

Verteenwoordigers van die organisasies en politieke partye het gesê dit is tyd dat die regering tot verantwoording geroep word om al Suid-Afrika se burgers te beskerm en te beveilig. Die brutaliteit en wreedheid waarmee moorde en aanvalle in landelike gebiede gepaard gaan, is ook uitgewys en daarom word spesialiseenhede geëis om ’n einde aan die misdade te bring.

Sedert die begin van die jaar is meer as 80 boere reeds in meer as 360 plaasaanvalle vermoor.

 

 

Soortgelyke plasings