|

Stellenbosch-skole maak skoonskip by Dink of Sink-skoledebat

Moet die SAUK geprivatiseer word? Is daar ’n ekologiese voordeel aan die stygende olieprys? Moet jou ouers vir jou ’n lewensmaat kies?

Dít was van die onderwerpe waaroor hoërskoolleerlinge vurig debatte gevoer het tydens vanjaar se Dink of Sink-skoledebatskompetisie.

Sowat 500 leerlinge van byna 50 skole het aan meer as 1 000 rondtes van debat deelgeneem tydens vanjaar se kompetisie.

Na drie nasionale streeksuitdunrondtes het die streekswenners, naamlik Hoërskool Noord-Kaap, C&N Oranje Sekondêre Meisieskool, Helpmekaar Kollege, Hoërskool Nelspruit, Paul Roos Gimnasium en Hoër Meisieskool Bloemhof teen mekaar te staan gekom vir die finaal wat deur AfriForum in samewerking met verskeie media-vennote insluitend Beeld, Volksblad en Die Burger, aangebied is.

Die privaat hoëronderwysinstelling Akademia het ook ’n beurs vir een student van elke wenspan oorhandig.

Paul Roos Gimnasium en Hoër Meisieskool Bloemhof het uiteindelik met die louere weggestap in die finale rondte. Dit is was beide skole se eerste wen in ’n Dink of Sink-finaal.

Arlene Janse van Rensburg, ’n lid van Hoër Meisieskool Bloemhof se junior debatspan, sê dat hulle span baie trots is om die vrugte van hul harde werk te pluk. Sy sê tergend een van die mees uitdagendste onderwerpe van die kompetisie was oor of kannibalisme die antwoord is vir die wêreld se voedselkrisis. “Dit was ’n baie eienaardige onderwerp en ons was die inleidende span. Dit het ons beslis gedruk om kreatief te wees en ek dink ons het toe besef waartoe ons in staat is as dit by debatvoering kom.”

Angela Schindehütte, ook van Hoër Meisieskool Bloemhof, sê dit is vir hulle baie spesiaal dat beide Stellenbosch-skole wat deelgeneem het as wenners weggestap het. “Ek dink dit is so goeie en stimulerende aktiwiteit om aan deel te neem. Jy leer hoe om jouself beter uit te druk en dit dwing jou om te volg wat in die nuus gebeur.”

Tia Bruwer, van Hoër Meisieskool Bloemhof, moedig alle leerlinge aan om aan debat deel te neem. “Debatvoering leer jou hoe om flink te dink, om in ’n span te werk en gee jou meer selfvertroue.”

Mihan van Zyl, ’n lid van Paul Roos Gimnasium se senior debatspan, sê dat dit ’n oorweldigende gevoel was om uiteindelik weg te stap as wenners van die kompetisie. “Ons het al voorheen deurgedring na die finale rondte toe maar nog nooit gewen nie en dit het ons elke keer net aangemoedig om harder te werk en beter voor te berei.”

Alex Aldrich, ook ’n lid van Paul Roos Gimnasium se debatspan, sê debatvoering is ’n baie belangrike vaardigheid vir jongmense. “Debat verbreed jou algemene kennis en leer jou hoe om jou standpunt oor te dra. Dit is só ’n belangrike vaardigheid om te leer, ongeag die beroep wat jy eendag wil volg.”

“Dit is die ideale geleentheid om Afrikaans as onderrigtaal uit te bou en ons is elke jaar so verras om jongmense se uitmuntende Afrikaanse woordeskat te hoor. Debatvoering is ook ’n belangrike vaardigheid wat reeds van kindsbeen af by leerlinge gekweek moet word,” meen Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum.

 

Soortgelyke plasings