Stemproses verloop meestal vlot maar is ver van perfek – AfriForum


Die burgerregte-organisasie AfriForum is van mening dat die nasionale verkiesing op 8 Mei 2019 grootliks vlot, hoewel nie perfek nie, verloop het. 

AfriForum se waarnemerspan het by tientalle stemlokale landwyd waargeneem en was op talle plekke die enigste waarnemers. “Ons kan net oor ons eie waarneming kommentaar lewer, maar by die stemlokale waar ons teenwoordig was, het dit in die algemeen goed gegaan. Ons waarnemers se terugvoer was dat die prosesse flink gevloei het, daar nie groot voorvalle en ongerymdhede was nie en die personeel bedagsaam en vriendelik was,” sê dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Volgens Brink was daar egter ook sekere probleme en kommerwekkende tendense te bespeur. “Sommige waarnemers het vermeld dat sekere stemlokale laat oopgemaak het omdat daar nie skandeerders, stembriefhouers en stembriewe gereed was nie. Party stemlokale was klaarblyklik onvoorbereid en by sommige plekke was die stembriewe al vroeg op. Dít het weer druk op ander nabye stemlokale geplaas om nóg mense te akkommodeer.”

Volgens Brink het sommige stemlokale in die Vrystaat en Noordwes ook net een stembriefhouer vir sowel die nasionale as provinsiale stembriewe gehad. “Ons waarnemers het ook aangedui dat die personeel van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) by sekere stemlokale nie genoegsaam opgelei is nie. Hulle het veral aanvanklik nie geweet wat om te doen nie, maar dit het later beter gegaan en ons waarnemers en die publiek het hulle touwys gemaak.

“In die algemeen het die stemmery goed verloop in stede soos Pretoria en Bloemfontein en groter dorpe soos Vryburg en Potchefstroom, maar minder suksesvol in plattelandse gebiede en klein dorpe. Daar was ook nie oral party-agente by die stemlokale teenwoordig nie en dit is waarom die burgerlike organisasies se waghondrol selfs in verkiesings so belangrik is.”

Brink sê AfriForum se terugvoer en besware ten opsigte van die waarneming van die verkiesing sal in ’n verslag aan die OVK vervat word. “Ons wil seker maak dat die proses selfs beter werk in 2021, wanneer die volgende plaaslike verkiesing gehou word.”

Soortgelyke plasings