Stop Zuma

 

AfriForum begin burgerlike mosie van wantroue in president Zuma

AfriForum stel ’n burgerlike mosie van wantroue in president Jacob Zuma bekend. Die mosie van wantroue is opgestel in die vorm van ’n aanlyn-petisie wat by die Speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete ingedien sal word. AfriForum het ’n beroep op die breë publiek gedoen om die mosie van wantroue te ondersteun. Dit volg na die onlangse skommeling van die kabinet en die afgradering van Suid-Afrika na rommelstatus deur die graderingsagentskap, S&P.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum het gesê dat hierdie mosie van wantroue ’n geleentheid aan die breë publiek bied om deel te neem aan ’n proses om van Zuma as staatspresident ontslae te raak. “Ons ondersteun die sentiment wat onder verskeie opposisiepartye bestaan dat daar weer ’n mosie van wantroue in die president ingestel moet word. Daardie proses sal egter in die parlement afspeel en deur politieke partye gedryf word. Terselfdertyd skep ons ’n platform van die breë publiek om self ook deel te neem aan ’n mosie van wantroue deur hul name by ’n burgerlike weergawe daarvan te voeg.”

Roets het gesê dat AfriForum beoog om meer as ’n honderd duisend name in te samel, wat by die Speaker van die parlement ingedien sal word voordat die parlement oor hierdie saak vergader. “Hierdie is nie bloot ’n petisie nie. Dit is nodig dat die boodskap oorgedra word dat dit nie net opposisiepartye met politieke aspirasies is wat aanvoer dat Zuma nie bevoeg is om die regering te lei nie, maar dat hierdie sentiment deur die burgerlike samelewing gedeel word.”

Sit jou naam by die mosie van wantroue:

Soortgelyke plasings