#StopMalema

AfriForum en Malema is in die hof.
Hierdie is jou geleentheid om saam met AfriForum te veg in die appèlaansoek teen #KillTheBoer.

Jy kan help! 
Deur ‘n bydrae te maak vir AfriForum se regskoste.

#STOPMalema. Jy kan help deur jou naam hierby te voeg:

AfriForum se verteenwoordigers sal na Genève, Switserland reis om aan die vyftiende sitting van die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidskwessies deel te neem, wat tussen 1 en 2 Desember plaasvind. Ernst Roets, AfriForum se uitvoerende hoof vir Internasionale Skakeling, sal persoonlik ’n aanbieding maak oor die voortgesette haatspraak en diskriminasie teen minderhede in Suid-Afrika. AfriForum verteenwoordigers sal ook ’n verslag by die kantore van die Verenigde Nasies se Komitee vir die Eliminasie van Rassediskriminasie (CERD) indien.

Hierdie verslag poog om al die nuwe diskriminerende wetgewing, voorvalle en beleid in Suid-Afrika te dokumenteer asook dié wat geïmplementeer of voorgestel is, of wat plaasgevind het sedert 2020. Die verslag dokumenteer sommige van die bekendste voorvalle van haatspraak en aanhitsing tot geweld teen minderhede deur hoëprofielfigure in daardie selfde tydraamwerk. AfriForum het hierdie verslag geskryf om aan CERD-lede ’n meer omvattende beskrywing te verskaf van die stand van menseregte in Suid-Afrika, veral hoe minderheidsgemeenskappe deur haatspraak, aanhitsing tot geweld en diskriminerende wetgewing in die visier gestel word.

Menseregtekommissie – Haatspraak en Aanhitsing tot geweld

AfriForum het ’n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ingedien oor uitlatings wat op 16 Oktober 2022 deur die EFF-leier, Julius Malema, by die party se Wes-Kaapse vergadering gemaak is. Malema het onder meer gesê: “Julle moet nooit bang wees om dood te maak nie. ’n Rewolusie vereis dat daar op een of ander punt doodgemaak moet word, want doodmaak is deel van die rewolusionêre daad.” Tesame met die klag, het AfriForum sy 300 000 lede gevra om via die organisasie se webtuiste ook klagtes aan die MRK te stuur.

Na aanleiding hiervan het die MRK op 8 November bevind dat daar genoegsame rede is om van Julius Malema en die EFF se uitlatings as haatspraak en aanhitsings tot geweld te verklaar. Die MRK het die EFF en Malema tien dae gegee om hierdie stellings terug te trek en om verskoning te vra. Indien Malema nie gehoor hieraan sou gee nie, het die MRK Malema skriftelik in kennis gestel dat hul hom voor die hof sou daag om ’n tussentydse interdik te bekom. Die EFF het egter kort na die MRK se bevinding ’n mediaverklaring uitgereik waarin die party verklaar het dat hul weier om aan die MRK se bevinding gehoor te gee.

AfriForum sien die MRK se bevinding as ’n belangrike eerste stap om van gevaarlike en haatlike politiek deur prominente politici ontslae te raak. In sy rol as aanvanklike klaer, monitor AfriForum die saak.

Haatspraak

AfriForum is tans by twee #StopMalema-sake betrokke. Jy kan help deur jou naam hierby te voeg:

  1. AfriForum vra appèlregter om haarself van die “Kill the Boer”-saak te verwyder
    In 2023 het AfriForum se regspan formeel by die Registrateur van die Hoogste Hof van Appèl versoek dat regter Raylene Keightley haarself van die paneel regters moet onttrek wat moet beslis oor AfriForum se appèlaansoek teen Julius Malema en die EFF se dreunsang van die lied “Kill the Boer”. AfriForum het besluit om hierdie versoek in te dien nadat dit aan die lig gekom het dat waarnemende regter Keightley in 2018 sterk menings teen AfriForum in ’n hofsaak uitgespreek het. In een van haar opmerkings het sy gesê dat die organisasie aan “anachronistiese posisies” vasklou. Tydens daardie saak het Keightley ook geïmpliseer dat indien sy moes beslis oor enige toekomstige saak waarby AfriForum betrokke sou wees, die organisasie dit dalk gepas sou vind om haar onttrekking te vra. AfriForum op 15 Februarie 2024 weer in die hof verskyn.
  2. SAMRK verklaar Malema se “moord is ’n revolusionêre daad”-uitsprake haatspraak
    Nadat AfriForum en duisende van sy lede klagtes by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ingedien het, gaan dié burgerregteorganisasie die saak fyn dophou om seker te maak dat die EFF-leier Julius Malema deur die MRK voor die Gelykheidshof gesleep word oor uitlatings wat die MRK as haatspraak en aanhitsing tot geweld verklaar het. Die MRK het op 8 November 2023 skriftelike kennis aan Malema gegee om binne tien dae die uitlatings terug te trek en daarvoor om verskoning te vra. Indien Malema dit nie sou doen nie, het die MRK gedreig om Malema Gelykheidshof toe te neem om ’n tussentydse interdik te bekom. Die saak gaan op 26 Februarie 2024 voort in die Gelykheidshof, aangesien Malema versuim het om in die openbaar om verskoning te vra.

AfriForum het aangekondig dat sy appèl teen die Gelykheidshof se bevinding dat die Kill the Boer-dreunsang nie haatspraak is nie, op 4 September in die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein aangehoor gaan word. AfriForum het dié aankondiging gemaak nadat Julius Malema, leier van die EFF, weer die afgelope naweek Kill the Boer gesing het tydens die EFF se tiende bestaansjaarvieringe.

AfriForum gaan die “Kill the Boer”-haatspraaksaak se uitspraak appelleer. Die Gelykheidshof het verklaar dat die dreunsang “Kill the Boer” nie haatspraak is nie.

Hierdie uitspraak ’n baie gevaarlike presedent skep. Die steurende boodskap wat met hierdie uitspraak gestuur word, is dat die aanmoediging van die gruwelike moord van ’n sekere groep gebaseer op hul identiteit aanvaarbaar is en geen gevolge dra nie.

AfriForum het hierdie klag in Oktober 2020 aanhangig gemaak nadat ondersteuners van die EFF “Kill the Boer, Kill the Farmer” buite die landdroshof in Senekal gesing het waar beskuldigdes vir die moord op die plaasbestuurder Brendin Horner verhoor is.

Mediaverklaring

Vuurwapenhofsaak

Malema terug in hof oor roekelose hantering van vuurwapen

Ná volgehoue druk deur AfriForum gaan Julius Malema, leier van die EFF, weer in die Streekhof in Oos-Londen verskyn. AfriForum het reeds in 2018 klagtes teen Malema ingedien nadat videobeeldmateriaal te voorskyn gekom het waarin dit wil voorkom asof Malema ’n aanvalsgeweer in die openbaar afvuur.

Die Nasionale Vervolgingsgesag vervolg Malema vir die afvuur van ’n vuurwapen in ’n beboude of openbare plek sonder ’n geldige rede, asook vir die besit van ’n vuurwapen en ammunisie sonder die nodige lisensie en magtiging.

Mediaverklaring

Aanrandinghofsaak

Malema-aanrandingsaak duur voort

Julius Malema, leier van die EFF, en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, sal môre weer in die Randburgse Landdroshof verskyn op aanklagte van die beweerde aanranding van die SAPD-kolonel Johannes Venter in April 2018. Die beweerde voorval, wat by Winnie Mandela se begrafnis plaasgevind het, is op kringtelevisie vasgelê en wyd in die media gepubliseer. AfriForum het druk op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) toegepas om die betrokke individue te vervolg en het ’n waaksaamheidsopdrag in die saak bekom. Die staat se laaste getuie sal môre tydens die hofverrigtinge ondervra word.

Mediaverklaring

Gereelde vrae

V: Het AfriForum met Malema geskik oor die sing van “Kill the Boer”?

A: In 2010 het AfriForum die destydse president van die ANC Jeugliga, Julius Malema, asook die ANC van haatspraak aangekla oor die voortdurende gesing van die dreunsanglied “Dubula iBhunu” (“Skiet die Boer”).

Die saak is in 2011 in die Suid-Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg – sittend as die Gelykheidshof – aangehoor, en AfriForum het die saak gewen. Die hof het bevind dat die lied “Dubula iBhunu” haatspraak is. Die hofbevel bepaal dat Malema en die ANC nie meer dié lied mag sing nie. Malema en die ANC het op daardie stadium gesê dat die bevel nie afdwingbaar is nie en aan die hand gedoen dat hulle hul nie daaraan gaan steur nie. Malema en die ANC het toe ook appèl teen sowel die hofuitspraak as hofbevel aangeteken. AfriForum het die appèl teengestaan. Dit het beteken die saak sou volgende deur die Hoogste Hof van Appèl (HHA) aangehoor word.

In aanloop tot die appèlsaak het die HHA beveel dat die partye eers om ’n tafel moet sit en ’n skikkingsgesprek hou om te bepaal of die partye konsensus kan bereik voordat die saak aangehoor word. Tydens dié skikkingsgesprek – waaraan Malema in sy persoonlike hoedanigheid en Gwede Mantashe in sy hoedanigheid as sekretaris-generaal van die ANC deelgeneem het – het Malema en Mantashe albei toegegee dat dit nie in hul belang sou wees om met ’n geveg oor die lied voort te gaan nie. Hulle het te kenne gegee dat hulle die lied – asook soortgelyke liedere – nie meer sou sing nie. Dié voorneme is toe op skrif geplaas in die vorm van ’n skikkingsooreenkoms wat ’n bevel van die Hoogste Hof van Appèl gemaak is. Die hofuitspraak wat bevind het dat die lied haatspraak is, is steeds van toepassing. Die hofbevel van die Hooggeregshof is met die skikkingsooreenkoms vervang.

Hoe verskil die aanvanklike hofbevel (wat nie meer van toepassing is nie) met die uiteindelike skikking (wat in die plek daarvan van toepassing is)?

  1. Die hofbevel het beveel dat Malema en die ANC nie meer die lied “Dubula iBhunu” mag sing nie. Ingevolge die skikking het hulle ingestem om dit nie te doen nie. Indien hulle die lied sing, pleeg hul nie net haatspraak is nie, maar ook minagting van die hof – wat ’n misdaad is.
  2. Die aanvanklike hofbevel was slegs op die lied “Dubula iBhunu” van toepassing. Die skikking sluit ander soortgelyke liedere in, byvoorbeeld “Kill the Boer, Kill the farmer”, “One bullet, one settler” en dies meer.
  3. Ingevolge die skikking onderneem Malema en die ANC om hul ondersteuners te ontmoedig om sulke liedere te sing. Dit beteken dat Malema ook lede van die EFF moet ontmoedig om sulke liedere te sing. As hy dit nie doen nie, pleeg hy minagting van die hof.
  4. Die hofbevel was ’n bevel van die Hooggeregshof. Die skikking is ’n bevel van die Hoogste Hof van Appèl , wat dit meer gesag gee.
  5. Die ANC en Malema het ingevolge die skikking ingestem om nie met hul appèl voort te gaan nie, wat beteken dat die risiko uit die weg geruim is dat die uitspraak van die Hooggeregshof – wat die lied tot haatspraak verklaar het – ongeldig verklaar word.

V: Hoekom doen Gerrie Nel nie die Malema-saak nie?

A: Gerrie Nel is ’n strafregkenner, nie ’n sivieleregkenner nie. Hierdie is ’n siviele saak, nie ’n kriminele saak nie. Gerrie het dekades laas siviele reg gepraktiseer.

V: Gee julle nie net vir die EFF en Malema ’n platform deur hierdie soort hofsake nie?

A: Die EFF is een van die bekendste partye in Suid-Afrika en Malema is een van die bekendste politici in die land. Hulle sou ’n platform en publisiteit kry of AfriForum hulle hof toe neem of nie. As AfriForum hulle nie hof toe geneem het nie, sou niemand nie.

V: Wat is die pad vorentoe wat die haatspraaksaak van Malema en die EFF betref?

A: AfriForum is tans in die proses om aansoek te doen om verlof tot appèl. Indien dit geweier word gaan ons direk na die Hoogste Hof van Appèl toe.