Straf vir vervalde lisensiekaarte onwettig

Die burgerregteorganisasie AfriForum dien vandag hofstukke in om die vereiste dat bestuurderslisensiekaarte elke vyf jaar hernu moet word, teen te staan. Hulle wil hê dat hierdie vereiste ongeldig verklaar en hersien word. AfriForum eis ’n verklarende bevel dat die Nasionale Padverkeerswet en die meegaande regulasies, in soverre dit die hernuwingstydperk vir bestuurderslisensiekaarte tot vyf jaar beperk, ultra vires, onredelik, arbitrêr en vaag is. Die organisasie eis verder ’n verklarende bevel dat motoriste nie kragtens dié wetgewing gepenaliseer of beboet mag word omdat hulle nie in besit is van ’n hernude bestuurderslisensiekaart is nie, aangesien so ’n boete nie bestaan nie.

AfriForum voer aan dat sy aansoek op grond van aansienlike regs- en praktiese gronde behoort te slaag. Uit ’n regsperspektief is die Nasionale Padverkeerswet en -regulasies te vaag om uitvoerbaar te wees. Die wetgewing onderskei nie duidelik tussen ’n “bestuurderslisensie” en ’n “bestuurderslisensiekaart” nie. Dit bepaal ook nie uitdruklik dat motoriste wanneer die kaart verval, moet aansoek doen om ’n nuwe lisensiekaart nie. Dit bepaal nie eens dat dit ’n misdaad is om met ’n vervalde lisensiekaart te bestuur nie en skryf geen boete, straf of sanksies voor nie.

“Die wetgewing is nie duidelik, bondig en intern harmonieus genoeg om die algemene publiek in staat te stel om met ’n mate van sekerheid te weet wat van hulle verwag word nie. Verder is die wetgewing ultra vires, met ander woorde die regering kan nie lede van die publiek straf as dit nie duidelik kan aantoon watter wet oortree is nie. Enige so ’n straf kom neer op ’n skending van regte,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Uit ’n praktiese oogpunt maak die departement van vervoer se goed gedokumenteerde administratiewe, operasionele en finansiële stryd dit onuitvoerbaar, onredelik en irrasioneel om van bestuurders te vereis om hul lisensiekaarte elke vyf jaar te hernu. Die aansoek beklemtoon verder dat baie lande wêreldwyd ’n lisensiekaartstelsel kies wat nie so ’n gereelde hernuwing vereis nie.

“Dit is verregaande dat die vereiste dat bestuurderslisensiekaarte elke vyf jaar hernu moet word blykbaar op geen wetgewing berus nie. As ons aansoek suksesvol is, sal dit die Departement van Vervoer lelik in die skande steek, aangesien dit sal beteken dat hulle die publiek al jare lank onregmatig straf. Dit kan werklik ’n keerpunt in die geskiedenis van Suid-Afrika wees,” sluit Reiner Duvenage af.

AfriForum het ’n webwerf bekendgestel waar lede van die publiek hul stemme kan laat hoor om hierdie hofsaak te ondersteun.

Soortgelyke plasings