| |

Studeer en leer in jou moedertaal – SLIM, nè!

Deur Carien Bloem – bestuurder van Onderwyssake by AfriForum

Taal vergestalt betekenis. Dit gee nie net inhoud en lewe aan sinne nie, maar gee ook sin aan die lewe. Dit stel ons in staat om die wêreld te verstaan en gee betekenis aan ons bestaan.

Jy praat, sing, debatteer, lag en dink in Afrikaans.

Dit is ons moedertaal en daarom is dit so belangrik dat onderrig en ontwikkeling in Afrikaans moet voortbestaan.

Volgens die opvoedkundige sielkundige dr. Magdarie Meijer is jou moedertaal die eerste taal wat jy aanleer. Dit is die taal waarin jy dink en waarin jy droom.

“As jy in jou moedertaal leer, ontwikkel jy jou luister- en redeneringsvermoë ook soveel beter,” meen dr. Meijer.

Die taalkundige prof. Wannie Carstens meen dat ’n mens bykans alle nuwe inligting deur middel van taal aanleer. As jy dus nie die taal verstaan waarin die inligting oorgedra word nie, is die leerproses nie sinvol of suksesvol nie.

Die tekort aan moedertaalonderrig is een van Suid-Afrika se grootste probleme. Kinders word reeds van kindsbeen af gedwing om in Engels skool te gaan, terwyl hulle eintlik nog besig is om hul eie moedertaal onder die knie te kry.

Deur Engelse onderrig word ’n magdom inligting aan kinders oorgedra wat hulle soos papegaaie leer – maar nie verstaan nie. Hulle kan dus op ’n latere stadium geen insig oor die inligting weergee nie, omdat hulle nooit werklik verstaan het wat hulle geleer het nie.

’n Universiteit is ’n plek van onderrig, leer en navorsing. Ten spyte daarvan dat Suid-Afrika bykans geen enkelmedium- Afrikaanse universiteit meer het nie, kan Afrikaanstalige universiteite akademies gesproke met enige ander topuniversiteit in die wêreld meeding, bevestig dr. Theuns Eloff, voormalige visekanselier van die Noordwes-Universiteit.

Talle top- Suid-Afrikaanse sakemanne wat aan Afrikaanse universiteite studeer het, is vandag suksesvol ongeag die taal waarin hulle werk, want hul grondslag en basis is standvastig in hul moedertaal gelê.

Die Navorser dr. Hertzog Bisset beaam wat dr. Eloff sê en meen ’n mens kan altyd kies in watter taal jy wil werk, ongeag die taal waarin jy geleer en studeer het. In jou eie taal kan jy komplekse en ingewikkelde wiskundige en wetenskaplike begrippe jou eie maak, want in jou eie taal kan jy ’n prentjie skep om alles te vereenvoudig.

Boonop word veeltaligheid deur moedertaalonderrig bevorder. Daarom is dit so belangrik dat Afrikaanse onderrig móét voortbestaan. Kinders wat in hul moedertaal Afrikaans onderrig ontvang, leer ook ander tale deur middel van Afrikaans aan. Die heel belangrikste is dat hulle verstaan wat hulle leer en dus met insig en kennis die inligting kan weergee wat hulle leer. Dit dra ook by tot ’n suksesvolle loopbaan later in hul lewens.

Afrikaans het ’n plek in Suid-Afrika en in Suid-Afrikaanse skole. Net so het alle moedertale in Suid-Afrika ’n plek en moet elkeen sy plek gegun word.

Afrikaans is reeds ’n gevestigde hoëfunksieonderrigtaal en hoef vir geen ander taal terug te staan nie – veral nie Engels nie.

Ons baai in die kleurrykheid van Afrikaans as taal en gee dit as geskenk aan die ryk kosmos van wêreldtale. Sonder taal is die wêreld stil en vaal. Ons is Afrikaans. Ons leef Afrikaans, hier aan die suidpunt van Afrika.

Soortgelyke plasings