|

Student skryf gedig na EFF-aanranding by Tuks

Afrikaanse studente het  teen die gewelddadige optrede van EFF-lede op die kampus van die Universiteit van Pretoria (UP) in opstand gekom.

Die EFF dreig die afgelope week om die kampus onregeerbaar te maak indien daar nie onmiddellik met Afrikaans as onderrigmedium weggedoen word nie.

Die verskillende studentegroepe het later slaags geraak toe die EFF besems as wapens gebruik het en glasbottels na van die studente geslinger is.

Annette Cilliers is ook tydens die voorval raakgeslaan en het later die volgende gedig oor die gebeure geskryf.

Jy kan probeer om dit uit my nuusbriewe, vraestelle, handboeke en universiteit te haal, maar jy sal dit nie uit my uit kry nie.

My Taal.

Ek sal stil wees, maar ek sal nooit ophou praat nie.

Ek is ’n Afrikaan en ek sal nie jammer wees oor my velkleur of my voorvaders nie.

Baklei, sing, dans en verniel. Afrikaans word nie bang nie.

Brand maar my geboue af. My taal brand nie. 

Beledig my. My taal gee nie om wat jy sê nie.

Kom met jou pangas en jou stokke. Afrikaans bloei nie.

Herinner my aan apartheid, ons weet. Afrikaans is NIE apartheid nie.

Afrikaans is braai, boerewors, koeksisters en Van der Merwe- grappies.

Afrikaans is die gevoel wanneer ‘n gedig jou hoendervleis gee.

Afrikaans is in my vreugde en my hartseer.

Afrikaans is in ons. Ek sal nie lê nie. Ek sal staan vir Afrikaans.

Dit is wie ek is.

My Taal.

 

Soortgelyke plasings