| | | |

Suid-Afrika gebuk onder twee epidemies: COVID-19 en misdaad

Die burgerregteorganisasie AfriForum is somber oor die misdaadstatistieke wat deur Bheki Cele, Minister van Polisie, bekendgemaak is. ’n Skok of verrassing is dit lank nie meer nie, want geweldsmisdaad het intussen die norm geword en nie die uitsondering nie. ’n Klein afname of toename kan nie meer die groter prentjie beïnvloed nie. Jaar ná jaar word Suid-Afrikaners gekonfronteer met misdaadstatistieke wat lank nie meer ’n probleem verteenwoordig nie, maar ’n tweede epidemie wat Suid-Afrika in die gesig staar: ’n misdaadepidemie. Die slegte nuus is dat – terwyl ’n entstof reeds ontwikkel word om COVID-19 te beveg – kaderontplooiing, politieke inmenging en ’n tekort aan vereiste vaardighede en kennis in kritieke topposisies in die SAPD bloot waarborg dat die misdaadepidemie nog lank met ons gaan wees.

Terwyl kundige, gemotiveerde en toegewyde polisiebeamptes die pot steeds aan die kook hou – soos wat onlangs uit die SAPD se vinnige reaksie op die Hartswater-moorde geblyk het – het korrupsie, wangedrag en selfs strafregtelike optrede in die SAPD die aansien daarvan beklad. Dít is wat waarskynlik tot die gerugte gelei het van die polisie se vertraagde reaksie op die Hartswater-moorde – wat later, tot AfriForum se verligting, weerlê is.

Hoewel AfriForum genl. Khehla Sitole se aankondiging verwelkom dat spesialiseenhede ontplooi sal word om plaasaanvalle en -moorde te beveg, sal slegs tyd en statistieke kan aandui of dié besluit ’n positiewe impak gehad het.

“Plaasaanvalle is ’n werklike krisis wat reeds die lewens van duisende mense geraak het. Dit is daarom belangrik dat die oplossing meer as bloot teorie moet wees, maar ook prakties werkbaar is,” sê Ernst Roets, AfriForum se hoof van Beleid en Aksie.

Die invloed van die COVID-19-pandemie moet egter nie vergeet word as die volgende jaarlikse statistieke bekendgemaak word nie.

“Genl. Sitole is Nasionale Polisiekommissaris sedert November 2017; Cele die Minister van Polisie sedert Februarie 2018. Hoewel ’n legio besprekings intussen gevoer is – veral oor maatskaplike kwessies soos gendergebaseerde geweld – is daar geen tasbare verandering of pogings van die SAPD om plaasaanvalle en -moorde daadwerklik te bekamp nie. Hoe verwag mens van die Minister van Polisie of die Polisiekommissaris om taakspanne suksesvol in te span vir misdade soos plaasaanvalle – wat ons glo met spesifieke strategieë teëgegaan moet word – as hulle onkapabel blyk te wees om te besluit oor of ’n algemene en logies samehangende polisiestrategie in werking te stel?” vra Guido Urlings, inligtingsbestuurder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Cele het tydens ’n onlangse onderhoud – toe hy uitgevra is oor die gebruik van moderne tegnologie soos lyfkameras – eerder besluit om op die negatiewe te fokus en moontlike menseregteskendings uit te wys as om te fokus op die positiewe bydrae wat dié toestelle tot die Suid-Afrikaanse polisieomgewing sou kon lewer. Eerder as om beskikbare tegnologie aan te gryp en dit in ’n moderne polisiestrategie vir Suid-Afrika te inkorporeer, sukkel die SAPD steeds met die basiese: Dossiers word nog per hand ingevul; IT-infrastruktuur is argaïes of van derde partye gehuur; die voertuigvloot word swak bestuur; en die logistieke dienste word so swak bestuur dat noodsaaklike items soos ammunisie gereeld uit voorraad is.

Soortgelyke plasings