Suid-Afrika wag steeds op antwoorde oor listeriosebron – AfriForum


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n beroep op die regering gedoen om nie op te hou soek na antwoorde oor die bron van die onlangse listeriose-uitbreking nie. Die grootste uitbreking van listeriose in die geskiedenis van die mensdom het bykans 200 lewens in minder as ’n jaar in Suid-Afrika geëis en sowat 1 000 besmettingsgevalle tot gevolg gehad.
Volgens dr. Eugene Brink, gesondheidswoorvoerder by AfriForum, het dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, self erken dat die siekte steeds nie heeltemal uitgewis is nie.

“Voorts het Motsoaledi ook erken dat die bron daarvan steeds onbekend is. Dit laat ruimte vir ’n toekomstige uitbreking van listeriose, asook ander gevaarlike virusse. Daarom is verdere navorsing, maatreëls en waaksaamheid nodig. Tot dusver is slegs die gevolge van listeriose aangeroer, maar nie die bron daarvan nie,” sê Brink.

Meer as 150 fabrieke is tydens die ondersoek met listeriose verbind. Tonne kos is herroep en vernietig.

“Dit dui daarop dat die oorsaak waarskynlik meer kompleks is as om een of twee organisasies of fabrieke die skuld te probeer gee. Weens die siekte se geneigdheid om in nat toestande te gedy, moet daar ook gekyk word na die gehalte van watervoorsiening in die algemeen en veral met betrekking tot voedselfabrieke.”

AfriForum is van mening dat die regering en ander rolspelers die publiek beter antwoorde verskuldig is.

Soortgelyke plasings