Suid-Afrikaanse besluiteloosheid oor onttrekking aan Internasionale Strafhof skend internasionale beeld


AfriForum neem kennis van Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, se kommentaar gister (4 Julie 2018) dat Suid-Afrika se onttrekking aan die Internasionale Strafhof tans heroorweeg word. Hierdie kwessie is in die kollig sedert die Suid-Afrikaanse regering in 2015 in gebreke gebly het om Omar al-Basjir, omstrede Soedannese president, tydens sy besoek aan Suid-Afrika te arresteer en aan dié hof uit te lewer.
Een van die redes wat die regering vir die beplande onttrekking aanvoer, is dat die hof Afrikalande na bewering eensydig teiken. Destyds het verskeie ander Afrikalande ook soos Suid-Afrika met onttrekking gedreig, maar die afgelope jaar het hierdie lande se verbintenis tot só ’n onttrekkingsproses ’n stille dood gesterf. AfriForum het die bewering dat Afrikalande geteiken word ernstig bevraagteken en verder aangevoer dat deelnemende lande juis die geleentheid het om die hof se moontlike gebreke van binne af aan te spreek.
Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir internasionale skakeling, berokken die regering se uitsprake ten gunste van onttrekking, asook die onsekerheid oor of die proses gaan voortgaan al dan nie, Suid-Afrika se internasionale beeld groot skade.
Tydens gesprekke in Europa en Brittanje die afgelope maand het senior parlementslede van die Europese Unie (EU), België, Nederland en Brittanje hul kommer aan Bailey oor Suid-Afrika se verbintenis tot die handhawing van die oppergesag van die reg en die beskerming van menseregte uitgespreek.

“Die moontlike onttrekking aan die Internasionale Strafhof en die regering se gebrek aan leierskap wat deur die voortslepende kwessie geïllustreer word, vererger beslis hierdie kommer en is herhaaldelik in gesprekke beklemtoon,” voeg sy by.

Bailey het onlangs besoek aan Europa en Brittanje afgelê as deel van AfriForum se internasionale veldtog teen onteiening sonder vergoeding.

Soortgelyke plasings