Sukkelende Eskom moet staatspensioen uitlos


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se lening van R5 miljard aan Eskom sterk veroordeel. Die OBK het namens die staatspensioenfonds, wie se bates hy bestuur, toegegee aan Eskom se versoek om die geld te leen.

“Hierdie lening is iets wat al vir ’n wyle gevrees word en nou het dit waar geword. Terwyl daar begrip kan wees vir die uitdagings wat die nuwe bestuur van Eskom in die gesig stuur ten einde die elektrisiteitsreus se korttermynkontantvloeiprobleme op te los, is hierdie ’n swak oplossing,” sê dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Brink sê voorts dat Eskom se nuwe bestuur nog nie aangedui het hoe hulle die elektrisiteitsvoorsiener se sake gaan omkeer nie.

“In hierdie stadium het ons steeds net die versekering gekry dat dinge sal verbeter en daar is wel van sekere vrot appels ontslae geraak, terwyl hierdie lening beslis nie vertroue inboesem nie. Afgesien van hierdie lening het die nuwe leierskap nog niks tasbaar gedoen om te wys hulle kan Eskom omkeer nie.”

Volgens Brink moet die vergoedingstruktuur van die Eskom-bestuur hersien word, die agterstallige gelde van munisipaliteite ingevorder en onreëlmatighede met die voorsieningsketting uitgesorteer word. “As daar na Eskom se finansies gekyk word, is daar selfs met goeie bestuur ’n geringe kans dat dinge op die lange duur beter sal gaan. Hulle gaan skuld aan om skuld te delg, terwyl hul inkomste daal. Eskom het ook al meer as R275 miljard van sy R350 miljard-staatswaarborg opgebruik, terwyl sy skuld tans op R367 miljard staan.

“Daarom is daar ’n baie goeie kans dat die OBK-lening nie terugbetaal gaan word nie en dít kan weer toekomstige lenings kniehalter. Dit kan ook miljoene mense wie se geld in hierdie fonds belê is, asook as hul afhanklikes, later in ’n enorme verknorsing laat beland.
“Hierdie lening maak ook die deur oop om maklik ’n lening by die OBK te verkry. Boonop dek die bedrag net Februarie se probleme; gaan hulle in Maart en April wéér lenings wil aangaan?” vra Brink.

Hy sê dat AfriForum sal voortgaan om sy waghondfunksie ten opsigte van elektrisiteitsvoorsiening aan gemeenskappe en munisipaliteite met oorgawe te vervul, maar beywer hulle ook vir die oopstel van die elektrisiteitsvoorsieningsmark vir privaat verskaffers.

“Die mededinging sal die prys van elektrisiteit afbring en aan gemeenskappe groter seggenskap oor hul eie elektrisiteitsvoorsiening gee, eerder as om die huidige duur en skadelike staatsmonopolie in stand te hou.”

Soortgelyke plasings