|

Sukses: Polisie arresteer verdagte in aanrandingsaak nadat privaatvervolgingseenheid ingryp

Die beskuldigde wat verdink word van die aanranding met die opset om ernstig te beseer, menseroof, opsetlike saakbeskadiging en afpersing van Leonie Kambouris, is op 13 Augustus in Benoni gearresteer.

Dít volg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid Kambouris op 5 Augustus bygestaan het om strafregtelike klagtes teen die beskuldigde by die Benoni-polisiestasie in te dien. Kambouris het reeds in Junie 2020 ’n beskermingsbevel teen haar man gekry, maar die polisie het geweier om haar te help toe sy in Julie vanjaar ’n klag wou lê.

Adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het namens die klaagster in die borgaansoek van die beskuldigde opgetree. Hoewel die beskuldigde op borgtog vrygelaat is, het die hof streng borgvoorwaardes gestel, onder meer dat hy nie die perseel van die gemeenskaplike woning mag betree, sy vuurwapens in besit mag hê of enige direkte of indirekte kontak met die klaagster mag hê nie.

“Ons verwelkom die feit dat die beskuldigde uiteindelik gearresteer is. Dit bly egter kommerwekkend dat AfriForum eers moes ingryp om die polisie te dwing om hulle werk te doen ten einde die slagoffer teen geslagsgeweld te beskerm. Ons moes selfs ’n klagte vir swak dienslewering registreer aangesien die polisie baie teësinnig was om ons te help met die lê van die klagtes. Die privaatvervolgingseenheid sal die saak deurlopend moniteer om te verseker dat geregtigheid geskied,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Sien skakel na vorige verklaring: https://afriforum.co.za/privaatvervolgingseenheid-ondersteun-mishandelde-vrou-met-indien-van-klag-na-regstelsel-haar-versaak/.

Soortgelyke plasings