| | |

SUKSES: SKIKKING OOR IVERMEKTIEN NOU ’N BEVEL VAN DIE HOF

Die burgerregteorganisasie AfriForum en dr. George Coetzee het vandag ’n verdere sukses in die stryd vir toegang tot ivermektien behaal, nadat die skikking oor die samestelling en beskikbaarstelling van ivermektien met die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) ’n bevel van die hof gemaak is.

Dié bevel bepaal onder meer dat ’n medisyne wat ivermektien as ’n aktiewe bestanddeel bevat op 16 Maart 2021 deur SAHPRA geregistreer is. Die gevolg van dié registrasie is dat ivermektien saamgestel mag word en toegang kan daartoe verkry word ingevolge artikel 14(4) van die Wet op Medisyne en Verwante Stowwe 101 van 1965. Die bevel bepaal ook dat toegang tot ingevoerde ivermektien steeds ingevolge artikel 21 van die Wet mag plaasvind. Die bevel bepaal verder dat SAHPRA en die Minister van Gesondheid, gesamentlik en afsonderlik, altesaam ’n bydrae van R1,8 miljoen (plus BTW) tot die koste van die vier applikante-groepe sal betaal.

Omdat ’n medisyne wat ivermektien as aktiewe bestanddeel bevat nou geregistreer is en ivermektien as ’n skedule 3 middel gelys is, kan ivermektien nou vir ander gebruike as wat op die geregistreerde medisyne se etiket staan (off-label) deur dokters gebruik word, wat die behandeling van COVID-19 insluit.

“Toegang ingevolge artikel 14(4) van die Wet beteken prakties dat dokters ivermektien aan pasiënte kan voorskryf op eie oordeel en dat geen artikel 21-aansoek of -rapportering vir saamgestelde ivermektien nodig is nie. Pasiënte kan dan dié voorskrif gebruik om by enige apteek waar saamgestelde ivermektien beskikbaar is, ivermektien aan te koop,” sê Barend Uys, hoof van Navorsing by AfriForum.

“Ek is baie bly dat die skikking ’n bevel van die hof gemaak is omdat dit vir dokters en pasiënte sekerheid bring,” sê dr. Coetzee.

Die bevel bepaal verder dat SAHPRA driemaandeliks aan die hof verslag moet doen oor die stand van sake rondom ivermektien en dat enige party tot die aansoek deur middel van ’n kennisgewing van mosie en aanvullende verklarings die hof mag nader om regshulp in verband met die administrasie en toelating van ivermektien as ’n behandeling teen COVID-19. Dié gedeelte van die bevel het nie deel gevorm van die oorspronklike skikking wat tussen die partye ooreengekom is nie.

Ons gee ook graag erkenning aan ons uitmuntende regspan, dr. George Coetzee en ander rolspelers soos, die Pharma Valu-apteekgroep, die I can make a difference-doktersgroep en die ACDP wat met toewyding gewerk het om toegang tot ivermektien vir burgers te verseker.

Hofbevel: Ivermektien

Soortgelyke plasings