|

Swak SA-onderwysstelsel tydbom vir derduisende jeugdiges

Onderwyskenners is bekommerd oor wat in die openbare onderwysstelsel aan die gang is gegewe die feit dat meer as 115 000 bykomende kandidate vanjaar die matriekeksamen gaan aflê.

Die departement van basiese onderwys het vandeesweek op ’n onderwyskonferensie in die Wes-Kaap bekend gemaak dat sowat 687 000 kandidate vanjaar die nasionale senior sertifikaat-eksamen (NSS) gaan skryf.

’n Woordvoerder van die departement het gesê hulle is nog nie seker hoe om die drastiese toename in getalle te interpreteer of te verduidelik nie.

Onderwysontleders meen dit kan aan verskeie faktore toegeskryf word wat verband hou met die departement se vorderingstelsel vir leerlinge waar hulle toenemend deurgesit word. Daar was vroeër riglyne dat ’n kind net een keer in ’n fase (bv. grondslag, intermediêr, algemeen of verdere onderrig) mag druip.

Die vraag is egter nou of dié riglyne steeds geld en toegepas word en of al hoe meer kandidate nie maar net deurgesit word om hulle uit die skoolstelsel te kry nie.

Prof. Kobus Maree, onderwyskundige verbonde aan die Universiteit van Pretoria (UP), het gesê indien daar ’n tendens is waar skoliere net toenemend deurgesit word, word niemand, en veral nie kinders nie, ’n guns bewys nie.

Hy het verwys na die geweldige hoë werkloosheidsyfer onder jeugdiges wat daarop dui dat skoolverlaters in Suid-Afrika op geen manier voldoende vir die arbeidsmark voorberei of toegerus is nie.

“Jongmense word op groot skaal gefaal en die regering behoort desperaat bekommerd te wees oor wat met die land se onderwysstelsel aan die gang is.”

Volgens Maree is daar geen behoorlike beplanning om die stelsel te verbeter nie. “Dit wil eerder voorkom asof nuwe besluite op ’n ad hoc-grondslag geneem word en dat dit vir diegene in besluitnemingsposisies eerder gaan om politieke punte aan te teken as om onderrig te verbeter.”

Prof. Izak Oosthuizen, onderwyskenner verbonde aan die Noordwes-Universiteit, deel Maree en ander se kommer. “Dit lyk of alles in die land eerder deesdae daaroor gaan om sekere mense in sekere politieke gestoeltes met groot salarisse te hou. Niemand, behalwe die onderwysers in skole waar uitnemendheid nog nagestreef word, gee skynbaar regtig om oor die land se kinders se toekoms nie.”

Oosthuizen het gesê die hoë werkloosheidsyfer onder die jeug, kan aan verskeie faktore toegeskryf word, soos uitkomsgebaseerde onderrig (UGO) wat jare gelede ingestel en klaaglik misluk het. Ander foute wat gemaak is, is die afskaffing van vakke wat op hoër- en standaardgraad geneem kon word, die verlaging in slaagsyfer en die onvermoë om kinders se lees-, skryf- en syfervaardighede op peil te kry.

“Ons sit met enorme probleme waarvoor daar nie ’n politieke wil is om oplossings voor te kry nie. Die mislukking van openbare onderwys, sal in die toekoms daartoe lei dat meer mense wat dit wel kan bekostig na private skole sal vlug.”

Dié donker prentjie is vandeesweek beaam met ’n verslag wat die Wêreldbank uitgebring het waarin bevestig word dat miljoene jong Suid-Afrikaners werkloos is, of werk soek, maar nie aan die vaardighede voldoen wat vir ’n moderne werksomgewing nodig is nie.

Die werkloosheidsyfer van 25,4% in Suid-Afrika is die hoogste van al die middelinkomste lande. Jeugwerkloosheid is nog erger en staan op 50%.

Die Wêreldbank het gesê skoolverlaters word die ergste in terme van werkloosheid geraak omdat sowat 40% van hulle nog nooit gewerk het nie.

Luidens die verslag sal maatskaplike spanning toeneem en armoede en ongelykheid bly voortduur as Suid-Afrika dit nie regkry om meer werksgeleenthede te skep nie.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die matrieksyfers is kommerwekkend en die feit dat leerlinge se geletterdheid bevraagteken word dui net weer daarop dat daar groter aandag aan moedertaal onderrig gegee moet word. “Die Wêreldbank se bevindinge bewys net weer eens die kommerwekkende standaard van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel en is ook bewys dat die beoogde gr. 9-skoolverlatersertifikaat nie die jeug gaan help nie, maar eerder werkloosheid verder gaan vererger.”

AfriForum lê klem op die bevordering van moedertaal onderrig en het ook onlangs die  tweede SLIM-video bekendgestel in hul veldtog vir die bevordering van moedertaalonderrig:  Studeer en Leer in jou moedertaal.

Soortgelyke plasings