|

Swart ekonomiese bemagtiging-kodes bedreig sake-omgewing op groot skaal

Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) is ’n enorme bedreiging vir Suid-Afrika se ekonomie en ’n groot afskrikmiddel vir potensiële beleggers.
Ekonome en ontleders het vandag by ’n konferensie van AfriSake oor SEB en die impak daarvan, gewaarsku dat die nuwe SEB-kodes ’n geweldige impak op groei, vooruitgang en ekonomiese ontwikkeling het en baie nadelige gevolge vir ondernemings en entrepreneurs inhou.

Dr. Anthea Jeffery, beleidshoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV), het in geen onduidelike taal gesê die drakoniese SEB-beleide kom op niks anders neer as die ANC-regering se volvoering van sy nasionaal demokratiese revolusie-strategie (NDR) nie. Dit is daarop gemik om die land van sosialisme na kommunisme te lei.
Sy het verwys na gewraakte beleide en wetgewing rondom mynbou en grondhervorming wat daarop neerkom dat die staat uiteindelik oor alle hulpbronne voogdyskap wil hê en enige van die hulpbronne sal kan onteien sonder enige vergoeding.
Jeffery het gesê terwyl voorgegee word dat SEB daarop gemik is om ongelykhede reg te stel, is die werklike gevolge daarvan dat net ’n klein swart elite bevoordeel word. Die meerderheid swart mense word in werklikheid benadeel en oorgesien.
Sy het verwys na verskeie ANC-hooggeplaastes wat ook al daarop gewys het dat SEB nie werk nie en nie van die land ’n beter plek gemaak het nie.
Jeffery het gesê SEB skrik nie net beleggers af nie. Dit dra ook by tot korrupsie, ondermyn eiendomsreg en vuur eintlik nasionalisering aan. Dit ondermyn ook werkskepping in ’n land waar werkloosheid baie hoog is en tot 65% van jongmense tussen 15 en 24 jaar volgens ’n breë definisie nie werk het nie.

Jeffery het gesê in die lig van die skade wat SEB aanrig, is die SAIRV van mening dat die regering eerder na iets soos die ekonomiese bemagtiging van benadeeldes moet kyk. “Ras kan nie langer as maatstaf gebruik word om te bepaal wie benadeel is nie. Daar moet eerder na die sosio-ekonomiese status van mense gekyk word.”
Volgens Jeffery behoort maatskappye en ondernemings eerder beoordeel te word op die verskil wat hulle kan maak in byvoorbeeld die bevordering van entrepreneurskap, die skep van ’n volhoubare ekonomie en werkskepping en bydraes om onderwys en opleiding te verbeter.

Russell Lamberti, medestigter van die Mises Instituut van Suid-Afrika en hoofstrateeg by die beleggingsadviesfirma ETM Analytics, het gesê groot korporatiewe maatskappye kan die impak van SEB op hulle “bestuur” deur hul besighede plaaslik kleiner te maak en eerder oorsee uit te brei. Kleiner besighede kan dit nie werklik doen nie en is onder baie groot druk.
Met verwysing na Suid-Afrika se posisie in die globale ekonomie het hy gesê die land dra maar 0,4% by tot die globale BBP. Die land se ekonomie is sowat $300 miljard werd.
Volgens Lamberti word die gemiddelde Suid-Afrikaner nie ryker nie en het die land as vrye ekonomie gestagneer. “Die regering se ingesteldheid is téén besighede en daar is heeltemal te veel wette en regulasies wat ekonomiese groei aan bande lê.”

Lamberti het gesê as die regering ernstig daaroor is om die land te maak werk, behoort hy te gaan kyk na praktyke soos in Colombia wat tot vooruitgang lei. “Die probleme in Colombia stem baie ooreen met die van Suid-Afrika, maar daar is baie groter ekonomiese vryheid en vrye mark-beleide .”
Piet le Roux, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut, het gesê SEB kan en sal nooit werk nie.

Volgens hom is SEB ’n beleid wat daarna streef om besigheidseienaarskap in Suid-Afrika van wit mense na polities-begunstigdes, veral swart mense, oor te dra. “Dit is ’n skending van eiendomsreg en ’n versterking van twee van die duurste staatsingrypings naamlik belasting en regstellende aksie.”
Volgens le Roux is SEB “regstellende aksie vir entrepreneurs, met enorme skadelike gevolge”.

Frans Nortjé, ʼn onafhanklike SEB-konsultant het ʼn in-diepte ontleding van die SEB-kodes gedoen.
Volgens hom kom dit daarop neer dat:
>Wesenlik groter klem op swart eienaarskap en swart bestuursverteenwoordiging geplaas word.
>Daar ’n verdubbeling van teikens vir vaardigheidsontwikkeling (maar net op swart werknemers) van toepassing is.
>Dit die instelling van ‘n begroting vir swart verskaffersontwikkeling is, teenoor voorheen veel wyer omskrewe ondernemingsontwikkeling.
>Daar wesenlike strenger teikens vir voorkeurverkryging (preferential procurement) is, met verskuiwings in aankope wat van ondernemings in swart besit en in die besit van swart vroue vereis word, asook ondernemings met ‘n omset van minder as R10 miljoen en R50 miljoen.
>Daar wesenlik strenger maatstawwe vir voldoeningsteikens is en dat strawwe ingestel kan word indien die teikens nie bereik word nie.

Nortjé het gesê sakelui sal strategies moet gaan kyk, dink en beplan hoe hulle in die toekoms in die lig van die SEB-beleide met hul ondernemings en maatskappye sal kan voortgaan. Van die oorwegings kan selfs behels om besighede na lande met gunstiger ekonomiese regulasies te verskuif ten einde steeds suksesvol te kan wees.
Cornelius Jansen van Rensburg, uitvoerende hoof van AfriSake, meen SEB is ’n slinkse manier om entrepreneurs van hul ondernemings te onteien.

Hy het gesê SEB raak alle mense en groepe in die land en almal behoort betrokke te raak om ’n katastrofiese scenario te vermy.
Hy stel voor burgerregte-organisasies moet poog om korporatiewe Suid-Afrika te oortuig om nie die huidige weergawe van die hersiene kodes toe te pas nie. Hulle moet daarna streef om die basiese ekonomiese regte vir die minderheidsamelewing te verseker.
Voorts moet korporatiewe Suid-Afrika morele leierskap bied en met werkbare alternatiewe kom wat tot versnelde groei en vooruitgang kan lei. Hulle moet standpunt teen die kodes inneem.

Daarbenewens moet wit, nie-RSA-Afrika- en ander buitelandse ondernemings (WAB’s) standpunt teen die marginalisering van hul ekonomiese regte inneem. Die WAB’s moet daadwerklik na geleenthede buite Suid-Afrika soek benewens hul plaaslike belange.
Volgens Jansen van Rensburg moet swart entrepreneurs ook aandring op gelyke deelname aan die ekonomie deur almal, ongeag ras.

Soortgelyke plasings