#SwartMaandag: AfriForum kondig aksies teen plaasmoorde aan

 

Terwyl die burgerregte-organisasie AfriForum en honderde lede van die publiek vandag ’n oomblik van stilte vir al die slagoffers van plaasmoorde by die Voortrekkermonument in Pretoria gehou het, is  die bejaarde Bokkie Potgieter (70) wreed op ’n plaas in Vryheid in KwaZulu-Natal vermoor.
Die organisasie het vandag as deel van #SwartMaandag saam met duisende landwyd saamgetrek ter nagedagtenis aan plaasmoordslagoffers in Suid-Afrika. Potgieter se dood bring die aantal plaasmoorde vir 2017 op 72 te staan; meer as die totale aantal plaasmoorde wat in 2016 gepleeg is.

“Vandag se byeenkomste is maar net die begin van ’n veldtog wat nog wyer sal uitkring en ’n groter veldtog sal word. AfriForum het reeds by vandag se byeenkoms enkele veldtogte en veiligheidsplanne in die stryd teen plaasaanvalle en -moorde aangekondig,” sê Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof by AfriForum.

AfriForum sal op 21 November ’n internasionale dag van protes teen plaasmoorde hou en op Saterdag, 25 November ’n protesoptog na die Uniegebou om ’n memorandum aan die president te oorhandig.
Hierdie optog sal in samewerking met die landbou-unie TLU SA aangebied word. AfriForum sal ook ander organisasies nader om betrokke te raak en moedig sowel boere en hul werknemers as die publiek aan om deel te neem. Verskeie bekendes het reeds bevestig dat hulle aan die optog sal deelneem.
Die internasionale dag van protes sal in aanloop tot die protesoptog plaasvind en sal uit twee aksies bestaan. AfriForum se plaaslike strukture en veiligheidsnetwerke sal op 21 November by meer as 100 polisiestasies regoor Suid-Afrika memorandums oorhandig waarin die prioritisering van plaasmoorde geëis word. AfriForum se afdeling vir internasionale skakeling organiseer ook Suid-Afrikaners regoor die wêreld om op daardie dag memorandums by hul ambassades te oorhandig. ’n Feiteblad, waarin belangrike inligting oor plaasmoorde opgesom word, sal op hierdie dag ook aan internasionale en buitelandse media versprei word.
Roets sê voorts dat Fikile Mbalula, die minister van polisie, dit duidelik gemaak het dat hy geen behoefte het om plaasmoorde met ’n toegespitste teenstrategie te beveg nie.

“Boere word in buitengewone verhouding op plase doodgemartel en die beste wat die minister kan doen, is om te waarsku dat dié wat die wet oortree wanneer hulle hierteen betoog, gearresteer sal word.”
“Mbalula is aandadig tot die krisis. Die president het dit ook duidelik gemaak dat hy meer gepla is oor sy beweerde reg om liedere te sing waarin plaasmoorde geromantiseer word as om iets aan die krisis te doen. Daarom sal ons dié krisis self aanspreek. Ons protesaksies is dus nie om die minister en die president te oortuig dat hulle ons probleme moet oplos nie, maar om vir die media en die internasionale samelewing te wys waarom ons dit self sal doen,” sê Roets.
“Ons het eenvoudig geen ander alternatief nie – die aanslag op ons boere is ’n vorm van terreur. Ons moet binne die raamwerk van die wet mobiliseer. Gemeenskapstrukture is die kern van ’n veilige toekoms. AfriForum het reeds meer as 100 gevestigde veiligheidstrukture landwyd en die publiek word aangemoedig om hierby in te skakel. Ons het egter elke burger se samewerking en steun nodig om veiligheidstrukture uit te brei,” sê Ian Cameron, AfriForum se veiligheidshoof.

  • Die publiek word genooi om op die webtuiste stopdiemoorde.co.za te registreer en bevestig dat hulle aan die protesoptog sal deelneem.
  • Suid-Afrikaners in die buiteland wat op 21 November aan die internasionale dag van protes wil deelneem, kan AfriForum kontak deur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za te stuur.
  • Vir meer inligting oor AfriForum se veiligheidstrukture stuur ’n e-pos na veiligheid@afriforum.co.za.

 

Soortgelyke plasings