Swartspruitrivier steeds ’n stank vir Kempton Park-gemeenskap


Die burgerregtewaghond AfriForum het die riooluitlaat in die Swartspruitrivier in Kempton Park op 17 Augustus 2017 en weer op 12 Oktober 2017 getoets om die gehalte van dié dorp se rioolwater te toets. AfriForum se Kempton Park-tak het Sanas-geakkrediteerde watertoetse gedoen ná verskeie gemeenskapslede herhaaldelik oor die onuithoubare stank afkomstig van die Swartspruitrivier gekla het.

“Ons het bepaal dat die riooluitlaat nie aan minimumvereistes voldoen nie. Die uitslag van die watertoets was positief vir fekale koliforme, E. coli, nitrate en fosfate, waarvan die konsentrasie nie binne die gestelde perke was nie,” sê Marie Naude, AfriForum se distrikskoӧrdineerder vir Gauteng-Suid.

Die tweede ronde toetse is gedoen nadat die plaaslike AfriForum-tak tevergeefs verskeie skrywes en vergaderingsuitnodigings aan die Ekurhuleni Plaaslike Munisipaliteit gestuur het.

“Die Swartspruitrivier verval en die munisipaliteit doen niks om die probleem aan te spreek nie. Ons is op ’n punt waar ons as ’n gemeenskap standpunt moet inneem en iets aan die probleem moet doen. Ons kan nie toelaat dat die onbevoegdheid van munisipale amptenare besoedeling van ons kosbare waterbronne veroorsaak nie en daarom beplan ons om aksie te neem.
“Ons vra inwoners van Kempton Park om AfriForum die mandaat te gee om watergehalte deurlopend te moniteer. SMS ‘Kempton Park’ na 45342 om hierdie aksie te ondersteun. Elke SMS kos R1,” sê Jan Vermaak, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-tak.

Soortgelyke plasings