| |

Taakspan voed 1 000 gesinne met voedsame kitsmaaltye

Die COVID-19-taakspan wat gestig is deur die burgerregteorganisasie AfriForum en die familieboernetwerk Saai in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, het nou ook saam met Laeveld Agrochem begin om voedselverspreidingsprojekte van stapel te stuur. Dié taakspan het vandag voedsame Genesis-kitsmaaltye aan meer as 1 000 hulpbehoewende gesinne in Pretoria, Bloemfontein en Kaapstad versprei. Die maaltye word deur Laeveld Agrochem geborg.

Genesis bied ’n reeks funksionele voedsel- en drinkbare produkte wat onder meer spesifiek geformuleer is vir mense wat aan wanvoeding ly. Dit bevat al 55 noodsaaklike voedingstowwe, 12 vitamiene en vyf minerale van die daaglikse voedingsvereiste. Die kitsmaaltyd word ook stadig vrygestel, wat beteken dat dit jou vir tot ses ure versadig kan hou.

“AfriForum is opgewonde om in samewerking met al hierdie instansies ’n produk te versprei wat nie net honger verlig nie, maar mense van noodsaaklike voedingstowwe voorsien. Veral kinders in vroeë ontwikkelingsfases het hierdie voedingswaarde dringend nodig. Daar is baie studies gedoen oor die langdurige – en soms onomkeerbare – effek wat wanvoeding op kinders het, en ons wil dit met hierdie projek voorkom. Ons mag nie toelaat dat kinders soos tydens die Anglo-Boereoorlog in die konsentrasiekampe uitroep ‘Ons is honger!’ nie,” sê Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

“Saai is trots daarop om deel te wees van die voedselverspreidingstaakspan. Ons sal voortgaan om honger mense sonder diskriminasie in nood te help, ten spyte van die regering se pogings om voedselverspreiding te sentraliseer. Dit is verblydend om te sien hoe gemeenskappe, ondernemings en organisasies die afgelope tyd saamwerk om die kwesbaarste mense in ons samelewing te help,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

“Laeveld Agrochem het ’n duisend 10 kg-pakke van hierdie produk aan die COVID-19-taakspan geborg om by te dra tot die geveg teen honger en wanvoeding weens die staat van inperking. Ons sal ook voortgaan om hierdie taakspan te ondersteun met verdere skenkings van dié voedsame produk,” sê Corné Liebenberg, bemarkingsdirekteur by Laeveld Agrochem.

Die publiek kan skenkings maak aan die Solidariteit Beweging se noodfonds om hierdie projek te ondersteun:

Rekeninghouer:        Solidariteit Helpende Hand
Bank:                           FNB
Rekeningnommer:  62 331 445 503
Tak:                              Centurion (takkode 250 655)
Verwysing:                 Korona
Swift-kode:                FIRN ZA JJ

Besoek www.laeveld.co.za/af/genesis-nutritional-products vir meer inligting oor die Genesis-produk.

Soortgelyke plasings