| | |

Taakspan voorsien 10 000 voedsame kitsmaaltye aan Special Olympics SA

Die COVID-19-taakspan wat deur die burgerregteorganisasie AfriForum en die familieboernetwerk Saai gestig is, het vandag in samewerking met Laeveld Agrochem 10 000 voedsame Genesis-kitsmaaltye aan Special Olympics South Africa (SOSA) by hul hoofkantoor in Bryanston geskenk. SOSA ondersteun hulpbehoewende gesinne met kinders wat verstandelik gestrem is, en dié maaltye word aan dié gesinne versprei.

Die taakspan het die afgelope 72 uur ongeveer 200 000 maaltye aan gesinne en instellings versprei wat deur Solidariteit Helpende Hand geïdentifiseer is.

“Kinders in hul vroeë ontwikkelingsfase het hierdie voeding dringend nodig en veral gestremde kinders verstaan nie waarom hulle nou moet honger ly nie. Die kinders wat ons vandag help, is onderaan die lys wanneer dit by staatshulp kom. AfriForum kan nie toelaat dat kinders se ontwikkeling belemmer word weens die ekonomiese impak wat die regering se inperkingsmaatreëls tot gevolg het nie. Die taakspan het daarom besluit om vandag meer as 10 000 voedsame kitsmaaltye aan SOSA te skenk,” sê Ian Cameron, hoof van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

“Ons projekte word groter en bydraes deur skenkers al hoe meer. Die taakspan werk direk met behoeftiges; ons verspreiding is deursigtig en ons hou boek daarvan. Hierdie deursigtigheid lei tot vertroue in die taakspan se werkwyse en verleen legitimiteit aan die proses,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

“Laeveld Agrochem is dankbaar om deel van hierdie taakspan te wees deur hierdie voedsame produkte te borg aan mense wat dit regtig nodig het. Die Genesis-produk bevat al 55 noodsaaklike voedingstowwe, 12 vitamiene en vyf minerale van die daaglikse voedingsvereiste. Die voedingstowwe word stadig vrygestel, wat beteken dat dit jou vir tot ses uur versadig kan hou. Dit beteken dat hierdie gesinne se mae vol sal wees en hulle ten minste een voedsame maaltyd per dag sal hê,” sê Corné Liebenberg, bemarkingsdirekteur by Laeveld Agrochem.

Die publiek kan skenkings aan die Solidariteit Beweging se noodfonds maak om hierdie projek te ondersteun:

Rekeninghouer:                    Solidariteit Helpende Hand
Bank:                                      FNB
Rekeningnommer:                62 331 445 503
Tak:                                        Centurion (takkode 250 655)
Verwysing:                            Korona
Swift-kode:                            FIRN ZA JJ

Besoek www.laeveld.co.za/af/genesis-nutritional-products vir meer inligting oor die Genesis-produk.

Soortgelyke plasings