Taalbeleidwysigings gaan nie oor taalregte van studente nie, maar suiwer om segregasie  


Die vernaamste strekking van die argumente ter verdediging van die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat (UV) wat vandag in die appèlhof in Bloemfontein aangehoor is, is dat die universiteit Afrikaans as medium van onderrig moet uitfaseer, omdat daar oorwegend wit studente in Afrikaanse klasse en oorwegend studente van ander rasse in Engelse klasse is. Die standpunt is dus ingeneem dat die taalbeleid segregasie op die Kovsie-kampus onbepaald voortsit.

Die argument neem vele kernbelangrike beginsels nie in ag nie. Een hiervan is dat die regters in die Bloemfonteinse hoër hof reeds in Julie 2016 bevestig het dat die skrywers van die Grondwet besef het dat elke taalgroep ʼn bepaalde rassesamestelling het, maar tog is elf tale tot amptelike taalstatus verhef en erken, en die reg tot onderrig in ʼn eie keuse van taal is gespesifiseer.
ʼn Ander argument is dat die wegneem van sprekers se taalreg nie desegregasie tot gevolg gaan hê nie, maar juis segregasie verskans, wedersydse spanning gaan verhoog en nasionale kohesie gaan teenwerk. Dié feit is wêreldwyd herhaaldelik bewys, soms selfs met tragiese gevolge soos lewensverlies. Die ontstaan van internasionale moedertaaldag (21 Februarie) het hieruit voortgevloei. ʼn Taal se sprekers volg die taal. Deur Afrikaans uit hoofstroom openbare onderwys te dwing, word Afrikaanssprekendes uit hoofstroom  openbare onderwys gedwing. So word segregasie juis gevoed.
Ten spyte van al meer welsprekende regsargumente oor die noodsaak van taalbeleidaanpassings om Afrikaans uit te skryf en die nege oorblywende tale op tersiêre vlak in onbruik te laat stagneer, word dit duidelik dat universiteitsbesture geen insig in die betekenis en belangrikheid van taalregte het nie, maar van Afrikaans ontslae wil raak suiwer om die transformasie agenda van die regerende party te dien.
Die tragedie is dat die geskiedenis uiteindelik die regter gaan wees oor die universiteite en regslui se argumente, maar dan sou vele weerlose mense reeds die slagoffers van die kortsigtige besluite wees.
Die appèlhof het uitspraak in die saak voorbehou.
 

Soortgelyke plasings