|

Taallimpiese Spele verskaf pret in Afrikaans

Dit is op die oomblik algemeen bekend dat die Olimpiese Spele tans in Parys plaasvind. Hier bult sportmanne en -vroue hul spiere om te sien wie is onder meer die vinnigste, het die langste asem of kan die akkuraatste skiet. Wat dalk minder bekend is, is dat die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Taallimpiese Spele vandag afgeskop het waar ’n bietjie meer breinkrag eerder as spierkrag vir die oorwinning ingespan sal word.

Die Taallimpiese Spele vorm deel van die FAK se vieringe van Afrikaans wat volgende jaar 100 jaar as amptelike taal erken word. Dié Spele sal soos die Olimpiese Spele voortaan elke vierde jaar aangebied word. Waar die wêreld se elite atlete alles in die stryd sal werp om ’n medalje in Parys los te slaan, is die Taallimpiese Spele meer gemik op pret.

’n Bietjie gesonde kompetisie is natuurlik welkom en word selfs aangemoedig, maar pret in jou eie taal troef die najaag van pryse ten alle koste. Die meerderheid afdelings in die Taallimpiese Spele word trouens aanlyn aangebied en net een dag (3 Augustus) se deelname vind by die Voortrekkermonument (VTM) plaas.

“Ons taal kan net soveel taalspiere as die atlete in Parys wys en mense moet besef hoe belangrik Afrikaans is. Hierdie is ’n gepaste wyse om die FAK se viering van Afrikaans, wat volgende jaar al 100 jaar ’n amptelike taal is, af te skop,” sê Barry Müller, hoof van nasionale projekte by die FAK.

Barry Müller (hoof van nasionale projekte by die FAK) en Lieandri Ackermann (projekkoördineerder by die FAK)

Enigiemand van tien jaar of ouer kan in een van die verskeie afdelings inskryf. Sommige afdelings word oor verskeie dae aangebied terwyl ander die deelnemers net ’n dag of twee sal besig hou. Deelnemers is ook nie verplig om aan alles deel te neem nie, maar met punte wat in elke afdeling toegeken word, word deelnemers aanbeveel om aan soveel as moontlik afdelings deel te neem. Daar is onder meer afdelings vir fotografie, gedigte en blokraaisels.

Inskrywings is reeds oop en die eerste items het vandag afgeskop. Deelnemers wat laat ingeskryf het, sal die items wat hulle vroeër gemis het, kan inhaal. Die laaste dag van die kompetisie is 11 Augustus 2024. Alhoewel die FAK enige bydraes of aansluitings van vriende verwelkom, is deelname aan die Spele heeltemal gratis. Die algehele wenners in elke afdeling sal ’n medalje ontvang. Die algehele skolier- en volwasse wenner sal ook ’n R500 Takealot-geskenkbewys ontvang.

Wat die dag by die VTM op 3 Augustus aanbetref, kan deelnemers van sewe jaar of ouer in spanverband inskryf. Elke span moet uit vier tot ses lede bestaan. Spanne sal onder meer woorde moet ontsyfer of die langste woord uitdink. Die Taallimpiese Spele-wisseltrofee, 50%-afslag by die Toekomsbou-museumteater, ’n midweekwegbreek by die FAK Udolpho Rivierplaas in Parys, Vrystaat, en afslag by die Skool op Wiele of Uitspan Deli by die VTM is op die spel.

Skryf hier in vir die aanlyn kompetisie en hier vir die dag by die VTM. Rig navrae aan Lieandri Ackermann by lieandri@kultuurtuiste.org.za.

Soortgelyke plasings