|

Tainted Heroes kry positiewe reaksie tydens openbare vertonings

Lede van die publiek wat nog nie die geskiedkundige dokumentêre film Tainted Heroes, wat handel oor die strategie van die ANC se gewapende stryd, gesien het nie kan dit nog in Bloemfontein en Kaapstad meemaak.

Die film is reeds in Johannesburg en Potchefstroom vertoon.

Ernst Roets, AfriForum se adjunk uitvoerende hoof en uitvoerende hoof van Forum Films, meen dit is baie opwindend om uiteindelik die film met die publiek te kan deel.

“Ons het tot dusver baie positiewe terugvoer ontvang. Mense is baie opgewonde om uiteindelik die film te sien en sê dat dit vir hulle voel soos die eerste poging om hierdie spesifieke deel van ons geskiedenis in perspektief te stel.”

Roets sê voorts dat sekere toeskouers selfs frustrasie getoon het nadat hulle die film gesien het.

“Baie mense sê vir ons dat dit eintlik frustrerend is om die film te kyk, omdat dit feitlik korrek, maar polities inkorrek is. Hulle meen hoofstroom-uitsaaiers sal daarom nooit die dokumentêr uitsaai nie en dat AfriForum dus ʼn sterk poging moet aanwend om die film verder te versprei.”

Dié vertonings vind plaas as deel van die eerste fase van die burgerregte-organisasie se filmverspreidingstrategie, waar die dokumentêr in teaters regoor Suid-Afrika vertoon sal word. Massa DVD-verspreiding in Suid-Afrika word ook in die vooruitsig gestel as deel van fase twee van die verspreidingsplan. ’n Wêreldtoer sal ook later vanjaar afskop as deel van fase drie, met vertonings van die film onder meer in Washington, D.C, New York, Chicago en Los Angeles.

Ander Europese vertonings word ook vir 2017 beplan.

Die besonderhede van die vertonings in Bloemfontein is:

Datum: 27 Julie 2016

Tyd: 13:30 & 18:00

Plek: Banketsaal, Bloemfontein Skougronde, Curielaan

Die Kaapstad-vertoning sal op 8 Augustus by Canal Walk plaasvind, verdere inligting sal volg.

Let asseblief daarop dat die film ʼn ouderdomsperk van 16V bevat.

Lede van die publiek wat daarin belangstel om na die film te gaan kyk, kan hulle plek bespreek via die Tainted Heroes-webtuiste (www.taintedheroes.co.za)

Soortgelyke plasings