Tekort aan Gautengse skole mag nie tot ondermyning van funksionele skole lei nie

 

AfriForum hou die Gautengse departement van onderwys verantwoordelik vir die tekort aan skole in dié provinsie.
Die burgerregte-organisasie waarsku dat die departement se onvermoë om sy begroting te bestuur en na behore vir die groeiende aantal leerders in die provinsie voorsiening te maak, nie as verskoning mag dien om addisionele leerders in funksionele skole in te prop en sodoende hierdie skole se funksionaliteit te ondermyn nie. Dié kommentaar volg nadat Panyaza Lesufi, die LUR van onderwys in Gauteng, aangekondig het dat meer as 63 000 leerders tans nog nie vir 2018 in skole geplaas is nie.

“Die departement se spandering op sowel administratiewe personeel as op luukshede soos om vir leerders tablette aan te koop en ’n aanlyn skoleregistrasieplatform te skep, het tot gevolg dat daar reeds ’n tekort aan 195 skole in die provinsie is,” sê Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys.
Volgens die onderwysdepartement is 17 nuwe skole gedurende die laaste twee jaar gebou, terwyl daar egter statistiek bekend is dat nagenoeg 120 skole vanaf 2010 tot op hede gesluit is. “Indien die departement eerder met spandering op die uitbou van infrastruktuur en die rehabilitasie van wanfunksionele skole gefokus het in stede daarvan om politieke speletjies met betrekking tot kwessies soos taalbeleide met funksionele skole te speel, was die skoolplasingkrisis veel kleiner,” meen Bloem.
“Die departement se onvermoë om sy begroting na behore aan te wend en die voortdurende poging om by skole se bestuur en etos in te meng, laat ’n mens tot die gevolgtrekking kom dat gemeenskappe wat ernstig is oor die toekoms van hoëgehalte-onderrig in die land, toenemend na alternatiewe onderrigopsies sal moet kyk. Dit sluit privaat onderrigmodelle in wat vir alle leerders voorsiening maak en nie net die welgesteldes onder ons nie,” sluit Bloem af.

AfriForum is tans besig om ’n regsmening oor die wysigingswetsontwerp van die skolewet in te win en sal eersdaags sy kommentaar daarop bekend maak.
 

Soortgelyke plasings