Teks-buurtwag ontvang tweerigtingradio’s; neem aan nasionale patrollie deel

 

AfriForum se Teks (Trichardt, Evander, Kinross en Secunda) -buurtwag het onlangs tweerigtingradio’s ontvang wat môre tydens ’n nasionale patrollie uitgedeel sal word. Dié tweerigtingradio’s sal die buurtwaglede en patrolleerders in staat stel om beter, vinniger en makliker te kommunikeer – veral omdat die buurtwag ’n groot gebied bedien.

“Die tweerigtingradio’s is ook nie afhanklik van selfoonnetwerke nie en skakel dus probleme wat in die verlede opgeduik het, uit. Dis belangrik dat kommunikasie veral tydens noodsituasies vlot verloop,” sê Armand de Kock, voorsitter van die Teks-buurtwag.

Buurtwaglede het reeds koeëlvastebaadjies ontvang asook toepaslike opleiding. Nóg opleiding, waaronder noodhulp, word vir 2018 beplan.
 
“Ons moedig alle inwoners aan om by die tak en buurtwag in te skakel en te help om ’n wesenlike verskil in die gemeenskap te maak”, sê Nico Venter, voorsitter van AfriForum se Teks-tak.
 
Die besonderhede van die nasionale patrollie is soos volg:
 
Datum:            Saterdag, 2 Desember 2017
Tyd:                18:00
Plek:               Eendedam, Oliver Thambostraat, Secunda
 

Soortgelyke plasings