| | |

Terug skool toe ná maande se inperking – deur die oë van ʼn graad 7-leerder

Deur Nicola Wyrley-Birch

Ek het aan die begin van 2020 om baie redes na graad 7 uitgesien: Die voorreg om onderhoofdogter te wees was iets wat ek my nooit sou kon verbeel nie. Ek het na kaskar, kuier saam met vriende, atletiek, hokkie, swem en koor uitgesien. My finale jaar van laerskool …

Maar dit was vóór COVID-19.

Alles by die skool het verander – van pouse hou tot huis toe gaan. Jy word vier keer gesaniteer voordat jy klas toe gaan en wéér voor en ná pouse. Daar word ’n brief aan elke leerder gegee waarop jou ouers moet aandui of jy enige simptome van die virus toon. En dan word jou koors gemeet – alles nog voordat jy die klas kan binnegaan.

Jy moet altyd jou masker dra, behalwe wanneer jy eet. Jy moet 1,5 m van ander leerders bly, selfs tydens pouse. Om kontak te beperk, wissel die onderwysers klasse en nie ons nie. Ons tafels is volgens die Onderwysdepartement se regulasies en spesifikasies gespasieer.

Ek is egter baie dankbaar vir die wyse waarop ons skool hierdie pandemie hanteer en dat ons wel veilig kan terug wees by die skool.

Die krisistyd het tóg sy hoogtepunte. Ek kan my vriende ná maande van tuisbly weer sien; ons onderwysers is elke dag bly om uit die huis te kom en grappies te maak; ek is baie dankbaar dat ons nie elke dag huiswerk kry nie en dat ons in die middae kan ontspan.

Maar saam met die goeie is daar ook die slegte. Ons moet ons maskers heeldag dra, jou hande raak rou van die sanitering en jy kan mekaar skaars hoor. Ons kan ook nie meer aan buitemuurse skoolaktiwiteite deelneem nie, en dit maak baie kinders se harte seer.

Dis egter belangrik om positief te bly. Ek gaan deur hierdie jaar kom deur elke dag op die goeie goed te fokus en elke dag met ’n glimlag op my gesig skool toe te gaan. Ek gaan vriendelik wees met almal wat oor my pad kom, want ek weet dat hierdie tyd van onsekerheid vir almal moeilik is.

My raad aan skoolgaande kinders van 2020 is om die beste te maak van wat hulle het. Ons moet gelukkig wees dat ons die voorreg het om skool toe te kan gaan en ons moet die beste maak van ’n slegte situasie.

“Shoulders broad, smile on your face and enjoy,” is my oupa se wyse woorde. Met hierdie wil ek sê: Ons moet die nuwe normaal nie net aanvaar nie, maar verwelkom, omdat ons in hierdie tyd geleer het hoe nodig ons mekaar het.

*Nicola Wyrley-Birch is in graad 7 aan die Laerskool Pretoria-Oos.

Soortgelyke plasings