|

Terugvoer oor verloop van verkiesing positief

Dit wil voorkom of die munisipale verkiesingsproses gister, ondanks haakplekke hier en daar, relatief positief verloop het.

Marcus Pawson, hoof van plaaslike regeringsake by AfriForum, het gesê ’n ontleding van die publiek en waarnemers se terugvoer op die burgerregte-organisasie se toep (AfriForum Verkiesingswaghond) dui daarop dat die proses in vele opsigte goed verloop het.

Meer as 500 mense het terugvoer gegee aan die hand van sekere vrae wat hulle oor die stemlokaal en kiesproses moet beantwoord.

Van die sake wat byvoorbeeld seepglad verloop het, is dat stemlokale vir die telproses toegemaak is, die uitslagstrokie deur alle partyagente onderteken is en kiesbeamptes kiesers se ID’s nagegaan het om seker te maak hulle is op die kieserslys. Kiesbeamptes het ook deurgaans ’n streep deur kiesers se name op ’n lys getrek om te verseker dat hulle nie weer probeer stem nie.

Van die kwessies waaroor waarnemers (7,1%) nie seker was nie, is of stembriewe in stembusse teruggeplaas en geseël is ná die stemproses.

Altesame 7,1% van waarnemers het aangedui dat daar voorvalle tydens die wagproses was. In Bloemfontein byvoorbeeld het ANC-ondersteuners by ’n stempunt in Pellissier oproerig geraak en rassistiese uitlatings gemaak. Altesame 7,7% van waarnemers het ervaar dat kiesbeamptes nie skandeerders gebruik het om te kyk of kiesers geregistreer is nie.

Die grootste probleem wat waarnemers gerapporteer het is rondom die seël van stembusse. Altesame 35,7% het gesê die stembusse was nie steeds verseël en ongesonde soos aan die begin van die proses nie en dit is dus onduidelik of daar aan van die busse gepeuter is.

Nog ’n probleem wat waarnemers (43,2%) geïdentifiseer het, is dat kiesers by ’n bepaalde lokaal geregistreer was, maar dat hul name nie op die kieserslys verskyn het nie.

Enkele ander probleme was dat die SAPD in 7,5% van voorvalle wat waarnemers gesien het, nie wet en orde op behoorlike wyse gehandhaaf het nie. In 5,4% van voorvalle was alle verkiesingsmateriaal ook nie van begin tot einde van die proses beskikbaar nie.

Volgens waarnemers se terugvoer was tot 90% van kiesers tevrede was met hoe lank hulle in rye moes staan. In die meeste gevalle (47,4%) het die stemproses tussen 5 en 18 minute geduur.

’n Omvattende verslag met al die bevindings sal binnekort vrygestel word.

 

Soortgelyke plasings