| |

THANDI MODISE-SAAK: AFRIFORUM GAAN APPELLEER

Die burgerregteorganisasie AfriForum is teleurgesteld in die uitspraak wat landdros Ben Mtebele Vrydagmiddag in die Potchefstroomse Streekhof gelewer het in die saak waar Thandi Modise, speaker in die parlement, op aanklagte van dieremishandeling verskyn het.

Die uitspraak volg nadat adv. Dali Mpofu, Modise se regsverteenwoordiger, gister ’n artikel 174-aansoek ingevolge die Strafproseswet gebring het. Mpofu het aangevoer Modise moet onskuldig bevind word op alle aanklagte teen haar. Mtebele het die saak teen Modise laat vaar.

“AfriForum is teleurgesteld in die uitspraak. Ons is van mening dat daar genoegsame gronde is om teen die uitspraak te appelleer en ons het reeds opdrag ontvang om daarmee voort te gaan,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van die familieboerorganisasie Saai, sê die afloop van die saak teen Modise skep groot verwarring in die landbousektor oor waar die aanspreeklikheid en verantwoordelikheid van veeboere ten opsigte van dierewelsyn lê.

Meer as 200 diere moes in 2014 weens wanvoeding op Modise se plaas uitgesit word. Dr. Sameer Abbas, ’n Potchefstroomse veearts wat destyds na die toneel uitgeroep is, het Woensdag in die hof getuig oor die toestand van die diere toe hy op die plaas aangekom het. Volgens Abbas se getuienis was die diere in ’n uiterse swak toestand en dat sommige van die diere slegs vel en been was.

Soortgelyke plasings