Thandi Modise-verhoor gereed vir privaat vervolging


AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Thandi Modise, voorsitter van die nasionale raad van provinsies, gedagvaar om op 21 Junie 2019 in die Potchefstroomse streekhof op aanklagtes van dieremishandeling te verskyn. Dít volg nadat die privaatvervolgingseenheid verlede jaar aangekondig het dat hulle Modise namens die nasionale dierebeskermingsvereniging (NDBV) privaat gaan vervolg.

Die NDBV het in Julie 2014 ’n klagte van dieremishandeling ontvang en onmiddellik ondersoek ingestel. Die NDBV kon vasstel dat die eienaar van die plaas waar die beweerde dieremishandeling plaasgevind het, Thandi Modise is. Modise se plaas was besaai met die karkasse van meer as 50 varke en ander dooie diere soos ganse, eende, skape en bokke. Die oorlewende diere, insluitend varke, beeste, skape, hoenders en bokke, is sonder kos en water gelaat en was in ’n uitgeteerde toestand. Die NDBV moes meer as 162 diere weens hul desperate en uitgeteerde toestand van kant maak.

“Die ondersoek is afgehandel en stappe is geneem om Modise voor die hof te bring. Die dagvaarding is suksesvol beteken en sy moet op 21 Junie 2019 in die hof verskyn. Dit sal ’n eerste verskyning wees en sal heel moontlik uitgestel word vir die reël van ’n verhoordatum. Die getuies (Bejani Chauke en kapt. Tebogo Mokolobate) wat versuim het om hul samewerking aan AfriForum se privaatvervolgingseenheid te gee, se verklarings is bekom,” sê Elias Maangwale, ondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.
“Hierdie was een van die wreedste gevalle van dieremishandeling wat ons nóg teëgekom het. Die erge graad van lyding wat die diere moes verduur, is onaanvaarbaar en ons kan nie toelaat dat Modise vervolging vryspring nie. Ons is dankbaar vir die wyse waarop AfriForum se privaatvervolgingseenheid hierdie saak hanteer en vir die goeie vordering,” sê Grace de Lange, hoof van die NDBV se plaasdierebeskermingseenheid.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het versuim om Modise te vervolg hoewel daar prima facie-bewyse is dat sy haarself aan dieremishandeling skuldig gemaak het. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die NDBV genader en aangebied om namens hulle die privaat vervolging te behartig.

“Hierdie is ’n verdere stap ter bevestiging van die beginsel dat niemand bo die reg verhewe is nie. Ons betrokkenheid onderstreep die respek wat ons het vir die onbaatsugtige werk wat die NDBV doen ter beskerming van diere,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings