|

Theo De Jager weer tot president van WLO herkies

AfriForum verwelkom dr. Theo de Jager, uitvoerende direksievoorsitter van die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai), se herverkiesing tot president van die Wêreld Landbou-organisasie (WLO).

Dr. De Jager was die eerste Suid-Afrikaner wat in 2017 verkies is as president van die WLO en dit is die eerste keer in die organisasie se geskiedenis dat ’n president van dié organisasie vir ’n tweede keer dien, asook eenparig herverkies word.

Dr. De Jager is deur Zimbabwe se Commercial Farmers Union (CFU), waarvan hy ook ’n erelid is, vir die posisie genomineer. Die WLO bestaan uit ’n aantal landbou-organisasies, asook landbouvennootskappe en verteenwoordig ongeveer 1,5 miljard boere van 54 lande regoor die wêreld. Die WLO verteenwoordig ook die landbougemeenskap by die Verenigde Nasies (VN) en hul onderskeie inisiatiewe.

Dr. De Jager het sedert 2017 internasionale steun veel wyer as vanuit die landbougemeenskap vir ’n boergedrewe agenda vir klimaatsverandering gewerf, wat veral by die VN en sy agentskappe groot byval gevind het. Hy is vasberade om verder aan dié agenda te werk om namens boere ’n globale burgerlike voorstel aan die VN te maak. Ná verskeie vergaderings met die Europese Unie (EU) en Russiese landbou-unies, en teen die agtergrond van toenemende handelspanning, beskou hy die beskerming van boere se toegang tot markte, veral in bederfbare voedselprodukte, as ’n prioriteit vir sy tweede termyn. Hy glo die digitalisering van landbou hou groot geleenthede vir Afrika in, en hy is ’n prominente kampvegter vir die modernisering, meganisering en kommersialisering van kleinskaal landbou deur vennootskapsmodelle in kommunale Afrika.

“Dr. De Jager is ’n uiters gerespekteerde landbouleier en word regoor die wêreld baie hoog geag veral vir sy leierskap, kundigheid en versiendheid. Suid Afrika is geseënd om ’n leier van sy kaliber in ons midde te hê. Sy agting onder wêreldleiers, en nie net in die landbou nie, word orals gesien, erken en waardeer,” sê Leon Borcherds, direkteur van Saai, ná die aankondiging.

“Saai wens dr. De Jager hartlik geluk met sy herverkiesing.”

Gedurende sy eerste termyn as president van die WLO het hy verskeie landboustrukture regoor die wêreld besoek en kon eerstehands sien hoe strukture elders werk, asook wat die effektiefste en volhoubaarste model vir die organisering in landbou is. Saai is die produk hiervan. As medestigterslid het dr. De Jager Saai as belangenetwerk geskoei op ’n nasionale eenheidstruktuur wat gebruik maak van digitale tegnologie en netwerkooreenkomste om familieboere se belange te dien,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het dr. De Jager se herverkiesing verwelkom en hom sterkte met sy termyn toegewens.

“Ons is baie positief hieroor en is van mening dat dr. De Jager se herverkiesing hom ’n groter internasionale platform gee vanwaar hy standpunt namens familieboere kan inneem.

“AfriForum is ook van mening dat dr. De Jager se posisie hom groter geleentheid vir internasionale skakeling bied waar hy met belangrike rolspelers kan ontmoet om kwessies soos plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding onder hul aandag te bring.”

Dr. De Jager is ’n voormalige president van Agri Limpopo, Pan African Farmers Organisation (Pafo), Southern African Confederation of Agricultural Unions (Sacau) en voormalige visepresident van Agri SA. Hy dien ook tans as voorsitter van Agri All Africa, die organisasie wat Suid-Afrikaanse en Zimbabwiese boere se belange in Afrika beskerm en bevorder.

Dr. De Jager het vroeër tydens die bekendstelling van Saai gesê dit is ’n landboubelangenetwerk vir boere deur boere.

“Die organisasie is daartoe verbind om die regte, waardes, ideale en behoeftes van familieboere in die primêre produksiesektor te beskerm en bevorder.”

Saai is nie polities verbonde nie en beywer hom om met bestaande landbou-unies met uiteenlopende politieke sentimente saam te werk waar dit in die belang van familieboerderye is.

Dr. De Jager het voorts gesê Saai is ook begin omdat daar ernstige gevaarligte rondom landbou in Suid-Afrika flikker asook rondom die regering se uitsprake wat onteiening sonder vergoeding betref.

Volgens hom moet privaatbesit ten alle koste beskerm word. Dit is ’n internasionale beginsel. “Ons mag nie in die debat oor grond agteroor buig nie. Daar moet markverwante vergoeding wees en dit moet billik en regverdig wees.”

 

Soortgelyke plasings