|

TIENTALLE STUDENTE KLOP BY AFRIFORUM AAN WEENS LENINGSKRISIS BY NSFAS

Deur Marthinus Koekemoer

Meer as honderd studente met Nasionale Skema vir Finansiele Bystand vir Studente (NSFAS)-lenings het AfriForum om hulp genader nadat die skema summier sowat 5 000 studente se lenings opgeskort het.

Die rede wat NSFAS hiervoor aanvoer, is dat die studente nie eerlik op hul aansoeke was nie of dat daar dokumentasie by hul aansoeke ontbreek.

Volgens Chantelle du Preez, nasionale koördineerder vir tersiêre instellings by AfriForum Jeug, is dit nie so eenvoudig nie.

“Van daardie dokumentasie moes van die universiteite se kant af aan NSFAS gestuur word wat nie gebeur het nie. Hulle het dus 5 000 studente se beurse ná agt maande gekanselleer. Ons uiteindelike doel is om die studente wat onregmatig hul beurse verloor het se befondsing terug te kry.”

Van die studente se aansoeke was aanvanklik goedgekeur, terwyl ander gekwalifiseer het, maar nie gehelp is nie.

Du Preez sê die studente wat by AfriForum om hulp aanklop word elke dag meer. AfriForum gaan almal probeer help, maar hoeveel by die hofsaak betrek sal word, is tans nog ’n ope vraag. AfriForum is nog besig om bewyse by die hofstukke te voeg en alle inligting van die studente te verifieër om te bepaal of hulle al die prosesse gevolg het en wel eerlik met hul aansoeke was.

Wat met die studente sal gebeur indien hulle nie gehelp word nie hang grootliks af van waar hulle studeer. “Die universiteite tree verskillend op in die verband, maar die meeste sal keer dat studente hulle grade mag kry as gevolg van uitstaande geld,” sê Du Preez.

“Hulle kan ook verhoed word om vir nagraadse studies aansoek te doen of selfs die werksplek te betree. Sommige studente wat geld skuld moes uit hul privaat verblyf uittrek of hulle skuld nog koshuisgeld.

“Universiteite kan ook studente keer om eksamens te skryf of om hul punte uit te reik totdat hul rekeninge betaal is. Hulle word wel toegelaat om klas te loop. Studente wat vanjaar studeer en sommige wat beoog om volgende jaar te begin, kan beïnvloed word.

“Die meeste studente sal elders finansiële steun moet kry,” sê Du Preez.

Sy raai studente aan om steeds klasse by te woon tot die saak afgehandel is. “Ons vat van die universiteite ook hof toe sodat hulle nie teen hierdie studente mag optree terwyl die saak aan die gang is nie.”

Du Preez meen die NSFAS-aansoekproses, waar studente tot agt maande wag om te hoor of ’n lening goedgekeur is, moet aangepas word sodat iemand wat aansoek doen dadelik weet of hy of sy ’n lening gekry het, al dan nie.

NSFAS is in Augustus 2018 onder administrasie geplaas. Aanvanklik sou die proses na ’n jaar afgehandel gewees het, maar dr. Randall Carolissen, die administrateur, se kontrak is later met nog vier maande verleng. Die vakbond Nehawu het verlede maand ’n voorlegging aan die portefeuljekomitee oor hoër onderwys en wetenskap gemaak waarin hulle onder meer aangevoer het dat Carolissen vriende en familie by NSFAS aanstel. NSFAS se hele topbestuur is na Carolissen se aanstelling weg. Sommige is afgedank, ander het bedank of het afgetree.

Klagtes van studente op NSFAS se Facebook-blad wissel van studiegelde wat nie betaal is nie tot foute met dokumentasie. ’n Omstrede kontrak om meer as 700 000 skootrekenaars aan NSFAS-studente te verskaf, is ook vroeër hierdie maand afgeteken na dit al twee keer onder ’n wolk van korrupsie-aantygings gekanselleer is.

“As NSFAS in geheel ten gronde gaan, kan die gevolge katastrofies wees. Duisende studente sal nie kan studeer nie omdat hulle nie finansiële steun iewers anders kan kry nie,” sê Du Preez.

Sy meen universiteite sal elke jaar minder studente inskryf en heelwat personeel sal sonder werk wees. Dit skep ook die geleentheid vir nog #feesmustfall-protesaksies, omdat die behoefte vir toegang tot gratis tersiêre onderrig groter sal wees. Dit sal ook die akademiese kalender en begrotings by universiteite omvergooi.

Intussen het Solidariteit Jeug verlede week ʼn dringende hofaansoek teen die NSFAS gebring om dié hulpskema te dwing om onmiddellik alle beurse waartoe hy hom kontraktueel verbind het, te heraktiveer en sy finansiële verpligtinge dienooreenkomstig na te kom.

Dié aansoek volg nadat NSFAS in sy reaksie op Solidariteit se aanmaning ontken het dat daar enige ongerymdhede of wanbestuur met betrekking tot die wanbetaling van studente se beurse bestaan.

“NSFAS is besig om hom te verontskuldig terwyl duisende studente nou sonder ʼn toekoms is,” sê Paul Maritz, bestuurder van Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling. “Die gevolg van NSFAS se wanbestuur is dat studente hul beurse kwyt is en dus nie hul studies sal kan voortsit en voltooi nie. Hierdie studente is almal uit laerinkomstegroepe en kan nie hul studies op ʼn ander manier befonds nie. NSFAS was vir hulle ʼn uitkoms en ʼn kans om hul eie toekoms te vorm. Nou word hulle deur ongerymdhede by die hulpskema hiervan ontneem.”

In sy hofstukke verwerp Solidariteit NSFAS se bewerings dat hy billik en binne sy reg opgetree het deur die kansellasie van studiebeurse en die onttrekking van finansiële steun aan studente. Solidariteit dring daarop aan dat alle ongerymdhede onmiddellik gestaak word en vra dat die hof NSFAS beveel om sy kontraktuele verpligtinge teenoor die studente met wie hy ʼn ooreenkoms gesluit het, moet nakom.

“Geen instelling het die reg om eensydig ʼn einde aan ʼn kontrak te maak en sommer net sy verpligtinge te versuim nie,” sê Anton van der Bijl, hoof van regsdienste by Solidariteit. “Wat NSFAS gedoen het, is nie net oneties nie, maar ook immoreel. NSFAS vergeet dat hy nie bloot met nommers werk nie, maar met mense wie se toekoms op die spel is. Solidariteit sal sulke optrede deur instellings nie duld nie en veg teen sulke ongerymdhede.”

Soortgelyke plasings