|

TOEGANG TOT SPORTHULPBRONNE

Deur Ronald Peters

Sporttalent is volop in Suid-Afrika, geleenthede is egter nie. As gevolg hiervan is daar ’n groot geleentheid om onontginde talent aan meer ontwikkelingsgeleenthede bloot te stel sodat hierdie individue ook die geleentheid het om hul volle potensiaal te kan bereik.

Dit is alombekend dat sportgeleenthede en die beskikbaarheid van sporthulpbronne in Suid-Afrika ongelukkig baie gesentreerd is rondom die groot stede. As ons gaan kyk na hierdie geleenthede en beskikbaarheid op skoolvlak, is dit baie gefokus op die sportskole wat finansieel sterker is as openbare skole en universiteite. Dit beteken dat kinders en volwassenes wat hulle nie in hierdie gebiede of instansies bevind nie, hul talente baie moeiliker tot die maksimum potensiaal kan ontwikkel. Wat hierdie wanverspreiding van hulpbronne verder negatief beïnvloed, is die wanvoorstelling van “transformasie” deur ons politieke liggame wat versuim om te onderskei tussen transformasie en diskriminasie, maar dit is ’n gesprek vir ’n ander dag.

Daar is natuurlik nie ’n eenvoudige oplossing vir hierdie komplekse uitdaging nie, maar iemand gaan verantwoordelikheid moet neem om die toekoms van sport en die ontwikkeling van sporttalent in ons land te bevorder. By AfriForum Sport is een van ons twee hooffokusse om sporthulpbronne meer toeganklik te maak vir ons lede. Ons gaan hierdie doelwit bereik deur onder andere ’n netwerk van AfriForum Sport-vennote te skep waar sportverskaffers van reg oor die land hul produkte en dienste teen ’n laer tarief vir ons lede aanbied. Ons gaan verder ook ’n aanlyn platform ontwikkel waarop topgehalte afrigting, oefenprogramme en ook ander geleenthede aan ons lede beskikbaar gestel gaan word. Dit sal beteken dat dit nie saak sal maak waar jy jou geografies bevind nie, jy sal toegang hê tot topgehalte sporthulpbronne.

Ons kan egter nie net op die individue wat met hierdie talente geseën is fokus nie, daar moet ook ’n groot fokus op diegene wees wat ons toekomstige sportsterre moet afrig en oplei. AfriForum Sport gaan dus ook sterk fokus op programme en kursusse om ons sportafrigters te bemagtig met die nodige kennis en hulpbronne. Deur weer eens gebruik te maak van ons aanlyn platform sal onderwysers en ander afrigters toegang tot opleiding en hulpbronne ontvang wat voorheen óf te duur óf nie prakties bereikbaar was nie.

Kompetisie is in ons ingebore en daarom sal AfriForum Sport deurlopend kompetisies, hetsy aanlyn of deur middel van toernooie, reël wat ons toekomstige sportsterre, afrigters en sportspanne die geleentheid sal bied om op ’n professionele en sosiale vlak teen mekaar te kompeteer en hul talente en gawes ten toon te stel. Dit is uiters belangrik dat ons nie net sporttalent ontwikkel nie, maar ook merietegeleenthede skep waar hierdie talentvolle individue raakgesien en geprys kan word.

Dit is ’n realiteit dat ons self verantwoordelikheid sal moet neem vir die toekoms van ons gemeenskappe, ons kinders, ons skole en ook ons sport. Ons sal nie toelaat dat hierdie motiverende bron van ons kultuur en ons gemeenskappe ten gronde gaan nie. Ons neem die bal in ons eie hande.

Ronald Peters is bestuurder van AfriForum Sport.

Soortgelyke plasings