Trant van openbare vergaderings by skole oor voorgestelde regulasies wek kommer


Die burgerregtewaghond AfriForum is bekommerd oor die trant wat die openbare vergaderings by skole aanneem rakende die nuwe voorgestelde skoleregulasies wat Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, op 30 Julie 2018 aangekondig het.

“Knelpunte soos watter taal as onderrigmedium in skole gebruik gaan word, hoe skole se kapasiteit bepaal gaan word, asook die magte van ouerbeheerliggame word deur bekommerde ouers in hierdie vergaderings geopper. Lesufi omseil egter ouers se geldige vrae en bekommernisse en weier om hierdie kwessies reguit aan te pak,” sê Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys.

Lesufi het gisteraand tydens só ’n vergadering by die Hoërskool Montana gesê dat ouers dankbaar kan wees dat hy mooi praat. Volgens Lesufi gaan die volgende LUR vir onderwys nie met ouers onderhandel nie, maar hulle forseer om te doen wat hy/sy bepaal.

“Sy houding in hierdie verband en die afmaak van ouers se besware dui daarop dat hierdie vergaderings en ouers se insette min tot geen waarde vir Lesufi inhou nie,” sê Bloem verder.

AfriForum wil ouers egter steeds aanmoedig om kommentaar teen die voorgestelde skoleregulasies by www.virskole.com te lewer om te verseker dat die sterkste moontlike teenkanting daarteen gebied word.
Ouers het tot 30 Augustus 2018 kans om kommentaar te lewer.

Soortgelyke plasings