|

Trauma van plaasmoord gaan nooit verby, sê Mariandra Heunis

Twee jaar nadat Mariandra Heunis se man, Johan, koelbloedig voor haar en haar dogtertjie doodgeskiet is, veg sy voort om die boodskap oor die wreedheid van plaasmoorde na die wêreld uit te dra.

Heunis het vandeesweek ’n video vrygestel waarin sy vir pres. Cyril Ramaphosa vra hoe hy sou gevoel het om die bloed van sy geliefde te gly ná ’n plaasaanval?

Heunis is nou ’n enkelma van vier en haar jongste kind is vyf dae ná sy pa se begrafnis gebore.

In die video doen sy ook ’n beroep op Amerikaners en die res van die buiteland om voort te gaan om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om plaasmoorde te erken.

Sy verwys ook na Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum se boek, Kill the Boer, wat oor plaasmoorde handel. Hy het gesê Heunis sal betrek word by die organisasie se internasionale veldtog vir die bewusmaking van plaasmoorde.

Heunis se boodskap aan Ramaphosa kom nadat hy hom onlangs hewige kritiek op die hals gehaal het toe hy in ’n onderhoud in die VSA gesê het dat daar geen moorde op boere in Suid-Afrika is nie.

Drukgroepe en landbou-organisasies het daarna hul absolute misnoeë hieroor uitgespreek.

Ramaphosa se woordvoerder het daarna vure probeer doodslaan deur te sê dat hy bloot gereageer het op ’n twiet van die Amerikaanse president Donald Trump oor “grond- en plaasbesettings, onteiening en die grootskaalse moord op wit boere”.

Heunis het vandag in ’n radio-onderhoud gesê plaasmoorde is ’n werklikheid en dit is ’n infame leuen as die regering en president volhou dat dit nie gebeur of ernstig is nie. “Wat met my en my kinders gebeur het, is maar een geval. Daar is duisende ander slagoffers. En plaasaanvalle en -moorde gebeur byna daagliks.”

Sy het gesê sy dra die boodskap ook ter wille van haar kinders uit. “Wat met ons gebeur het, is ’n trauma wat nooit sal verbygaan nie. Ons herleef dit daagliks.”

Heunis sê egter sy probeer nie meer vra waarom dit met haar en haar kinders gebeur het nie, want dit sal haar mal maak. Maar sy glo dat sy moet voortgaan om die boodskap van plaasmoorde ook ter wille van ander slagoffers uit te dra.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het dit beaam en gesê in die afgelope 48 uur was daar drie aanvalle en twee moorde.

Hy het ook gesê ’n afvaardiging van AfriForum vertrek binnekort na Australië om buitelanders ook daar bewus te maak van die omvang van plaasmoorde en die regering se voorgenome planne met onteiening.

Cameron het Ramaphosa ook veroordeel en gesê hy glo nie dat die president bloot Trump se opmerking verwerp het nie. Hy meen die president het doelbewus gesê wat hy gesê het.

Cameron het ook na randfigure gekap wat Ramaphosa ná sy uitlating probeer beskerm het en ook voortgaan om voor te gee dat plaasmoorde nie die wrede werklikheid is wat dit is nie.

Soortgelyke plasings