Traumaeenheid: Beskuldigdes in plaasaanval en -moord tot 37 jaar gevangenisstraf gevonnis

Die beskuldigdes in die wreedaardige plaasaanval op Robert Lynn en Susan (Sue) Howarth in Februarie 2017 is vandag in die landdroshof in Breyten gevonnis tot 37 jaar gevangenisstraf elk. Lynn en Howarth is op hulle plaas buite Dullstroom aangeval en vir ure lank gemartel voor hulle in ’n veld afgelaai is. Howarth het later aan haar beserings beswyk. AfriForum se traumaeenheid staan sedert 2017 vir Lynn by in hierdie saak.

Die twee beskuldigdes, Mischak Nkosinati Yika en Temba William Yika, het elk tereggestaan op klagtes van moord, poging tot moord, ontvoering, diefstal, huisbraak, besit van ’n vuurwapen en afvuur van ’n vuurwapen binne ’n beboude gebied. Die beskuldigdes is op al die klagtes skuldig bevind en elk gevonnis tot 37 jaar gevangenisstraf.

Lynn het ná die voorval teruggetrek Ierland toe nadat hy 30 jaar in Suid-Afrika gewoon het. Hy het getuig tydens die hofsaak maar was nie teenwoordig vir die vonnisoplegging nie. Hy het egter ’n emosionele brief gestuur wat as bewysstuk ingedien is.

Lynn het in sy brief geskryf: “Om my vrou, Susan op hierdie totaal afgryslike manier te verloor, het my tot in my kern geruk, ek sal nooit weer vrede hê nie. Ons vriende en familie is net so getraumatiseerd soos ek. Ek is in my eie tronk van vrees en totale hartseer as gevolg van hierdie gewelddadige dade teen my en Susan.”

Lynn het tydens die aanval steekwonde aan sy rug en bene opgedoen en is ook met ’n blaasvlam gebrand.

Waarnemende regter Lineo Liphoto het in haar uitspraak gesê dat die wyse waarop Lynn en Howarth deur die beskuldigdes gemartel is vernederend, wreedaardig en onmenslik was en dat die hof die samelewing moet beskerm teen sulke gewetenlose individue.

“Ek is saam met Robert en hulle geliefdes dankbaar dat hierdie dag aangebreek het en dat geregtigheid vandag kon geskied. Hoewel ons verheug is oor die vonnis weet ons dat geen vonnis die trauma van hierdie gebeure kan uitwis of verander nie. Geregtigheid het geskied maar die seer en onthou is steeds daar maar nou kan Robert saam met sy geliefdes op hulle eie pas begin genees en vorentoe beweeg,” sê Johan Kloppers, berader by AfriForum se traumaeenheid.

Adv. Eric Sihlangu, die staatsaanklaer in die saak, het vroeër gesê die bewyse teen die Yika-broers was oorweldigend.

Hierdie is een van vele sake waarby AfriForum se traumaeenheid betrokke is. Die traumaeenheid lewer ’n unieke diens en die beraders stap saam met elke slagoffer wat hulle paaie kruis die pad na herstel en genesing.

“Dit wat ons doen, is nie net ’n werk nie, dit is ’n roeping. Ons weet dat ’n mens nooit weer dieselfde is ná hierdie soort trauma nie en daarom is dit belangrik om te weet dat daar ’n toegewyde span is wat bankvas agter slagoffers en hulle geliefdes staan om ondersteuning te bied,” sluit Kloppers af.

Die beskuldigdes het aangedui dat hulle teen die vonnis gaan appelleer.

Soortgelyke plasings