|

Traumaondersteuning is my passie

Deur Magda Coetzee

Die woord “trauma” is afgelei van die Griekse woord τραῦμα, wat “wond” beteken. Trauma veroorsaak sowel fisieke as emosionele wonde – wonde wat mens nie met die oog kan sien nie. In albei gevalle het die slagoffer egter genesing nodig.

Trauma is die natuurlike reaksie op abnormale omstandighede, krisisse en gebeurtenisse waarop jy nie voorbereid was nie en wat jou hele wêreld verpletter, sodat dit nie meer ’n plek van toevlug is nie.

Dieselfde geld vir emosie wat met trauma gepaard gaan. Verskillende mense reageer emosioneel verskillend en geen twee mense se emosionele reaksie is identies dieselfde vir soortgelyke gebeurtenisse of ervarings nie. Elke mens se verwysingsraamwerk is uniek; daarom is die regte ondersteuning deur ’n persoon buite die trauma die belangrikste ding wat ná ’n traumatiese gebeurtenis moet gebeur. Dié persoon se rol in die genesingsproses is om:

  • praktiese hulp te verleen en slagoffers heeltyd te ondersteun;
  • te luister;
  • slagoffers veilig te laat voel;
  • nie ’n ek-weet-alles-houding in te neem nie;
  • geduld en empatie te toon;
  • slagoffers te motiveer wanneer hulle wil moed opgee; en
  • tonnelvisie te voorkom, want as jy in pyn en skok vasgevang is, verloor jy perspektief (jy kan nie meer die groter prentjie sien nie) en jou ondersteuner moet jou help om objektief te kyk.

As slagofferondersteuners is dit ons passie om –

  • begrip, deernis en empatie met elke slagoffer te hê;
  • ander te help om van hul lewensverliese te herstel;
  • ’n treurende persoon te help herstel en deur die afskeidsproses te lei;
  • geen trauma te gering of te groot te ag om te help nie;
  • bereid te wees om die pad saam met ’n slagoffer te stap, solank dit nodig mag wees;
  • net daar te wees; en
  • ’n pad saam met ’n slagoffer met passie te stap, terug te kyk en te sien hoe die slagoffer in die herstelproses gegroei het.

Dr. Tessa van Wijk skryf dat die genesingsproses harde werk behels en by ’n bewuste keuse begin:

  • Jy kies om jouself emosioneel en geestelik te versorg.
  • Jy kies om nie elke dag haat en woede met jou saam te dra nie.
  • Jy kies om lig te reis, sonder enige onnodige emosionele bagasie.
  • Jy kies om partykeer net te lag as alles te veel word.
  • Jy kies om soms beheer te verloor en jou net oor te gee.

Dan weet jy verseker dat jou slagoffer weer voluit leef met die vryheid om net te wees, lief te wees, soms kwaad te wees, vir ander genadig te wees, oorvloedig te wees en self vir ander ’n geskenk te wees.

Dan gee ek as slagoffersteuningsbeampte al die eer aan God, wat in Psalm 46:11 sê: “Wees stil en weet Ek is God.”

Magda Coetzee is ’n slagofferondersteuningsbeampte by AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid.

Soortgelyke plasings