Tribunaal bevind in AfriForum se guns dat regter Motata skuldig is aan rassistiese wangedrag


 
Die Regterlike Gedragstribunaal (RGT) het pas in AfriForum se guns beslis dat regter Nkola Motata hom aan rassistiese wangedrag skuldig gemaak het tydens ’n voorval in Januarie 2007 waar die regter onder die invloed van alkohol teen ’n muur van ’n woonhuis in Johannesburg vasgery en daarna op die toneel rassistiese uitsprake oor wit mense gemaak het. Die RGT het ook bevind dat Motata ’n gebrek aan integriteit getoon het in die wyse waarop hy sy regspan tydens die dronkbestuur-hofsaak teen hom toegelaat het om aan te voer dat hy nie onder die invloed van alkohol was nie, terwyl hy inderdaad onder die invloed was.
Die RGT – wat deur die Regterlike Dienskommissie (RDK) aangestel is om die onderskeie klagtes wat AfriForum en adv. G.C. Pretorius SC destyds teen Motata aanhangig gemaak het, te ondersoek – beveel ook aan dat die RDK ingevolge artikel 177(1)(a) van die Grondwet die proses begin om Motata as regter af te dank. Die datum waarop die RDK die RGT se bevinding gaan oorweeg, is nog nie vasgestel nie.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die RGT se bevinding nie net vir AfriForum ’n oorwinning nie, maar vir almal wat glo dat prominente figure in die samelewing nie toegelaat moet word om met rassistiese uitsprake weg te kom bloot op grond van hulle posisie nie. “Sou die RDK die RGT se aanbeveling aanvaar en die proses begin om Motata af te dank, sal dit geskiedenis maak, aangesien dit die eerste keer sal wees dat ’n regter uit sy amp verwyder word weens wangedrag.”
Kriel het daarop gewys dat die RGT se bevindings en aanbevelings nou die RDK en die parlement voor ’n groot toets te staan sal bring. Dit is volgens Kriel geen geheim nie dat daar verteenwoordigers soos Julius Malema op die RDK is wat dink dat dit aanvaarbaar is om rassistiese uitsprake rakende wit mense te maak. “Indien die RDK Motata beskerm ten spyte van die RGT se bevinding, sal dit die integriteit van die RDK ernstig in gedrang bring,” sê Kriel. Hy voer verder aan dat sou die RDK wel besluit om teen Motata se anti-wit-rassisme op te tree, die saak na die parlement verwys sal word wat met ’n tweederdemeerderheid sal moet besluit om Motata finaal af te dank. “Parlementslede sal ook dus getoets word oor of hulle anti-wit-rassisme aanvaarbaar vind,” sê Kriel.

Agtergrond tot die saak

In ’n klankopname wat Richard Baird (eienaar van die huis waar die ongeluk plaasgevind het) van die voorval in Januarie 2007 gemaak het, kan gehoor word dat Motata onder meer sê dat dit “die wit man se land was, maar dit is nie meer nie” en “geen wit man gaan my kritiseer nie”. Motata het ook die volgende aan lede van die Johannesburgse metropolisie wat hom wou kalmeer, gevra: “Waarom staan julle agter die wit man?” Motata het ook ’n lid van die Johannesburgse metropolisie wat hom gearresteer het, gedreig deur te sê: “Jy sal spyt wees hieroor.” Tydens Motata se skuldigbevinding aan dronkbestuur in die Johannesburgse landdroshof het die landdros in sy uitspraak aangedui dat die bandopname deur die hof as getuienis aanvaar is en dat Motata inderwaarheid rasseskeltaal (racial slurs) geuiter het.

Die RGT-bevinding
 
 
 

Soortgelyke plasings