Trump-twiet: Hier is die feite oor plaasmoorde en eiendomsreg in Suid-Afrika


Die Suid-Afrikaanse burgerregte-organisasie AfriForum het gesê Donald Trump, die Amerikaanse president, se twiet oor Suid-Afrika verwoord ’n geregverdigde kommer oor gebeure in Suid-Afrika en het diegene wat daaroor twyfel, versoek om hulle te vergewis van die feite rakende plaasmoorde en die bedreiging van eiendomsreg in die land.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit onwaar dat die aantal plaasmoorde in Suid-Afrika tans afneem.

“Die landbou-unie TLU SA se statistiek rakende plaasmoorde – wat verifieerbare slagoffername, plaasname én datums waarop die moorde gepleeg is, bevat – bevestig dat plaasmoorde verlede jaar op die hoogste vlak in 13 jaar was. ’n Goed begronde ontleding deur PoliticsWeb van die SAPD se statistiek dui verder daarop dat die polisiestatistiek wat deur AgriSA gebruik word om voor te gee dat plaasmoorde afneem, ernstige gebreke toon.”

Volgens Kriel ignoreer diegene wat plaasmoorde probeer afmaak deur daarop te wys dat die plaasmoordsyfer laer as 20 jaar gelede is, die feit dat die aantal kommersiële boere na raming byna gehalveer het oor dieselfde tydperk. (Sien grafiek en skakels na PoliticsWeb se ontledings onderaan.)
Kriel het ook daarop gewys dat PoliticsWeb se bevinding dat ’n plaasboer se kans om vermoor te word na raming 3,2 keer hoër is as die land se reeds buitensporige hoë gemiddelde moordsyfer bevestig dat plaasmoorde ’n ernstige krisis is wat dringende aandag moet geniet.

“Om kommer oor plaasmoorde en die gruwelike marteling wat soms met plaasmoorde gepaardgaan as oordrewe te probeer afmaak, toon ’n gebrek aan sensitiwiteit teenoor plaasmoordslagoffers.”

AfriForum beskou plaasmoorde as ’n ernstige skending van menseregte wat volgens Kriel deur alle hoofstroomrolspelers en regerings wêreldwyd wat in die beskerming van menseregte glo, veroordeel moet word. Die feit dat daar klein groepies wit nasionaliste is wat die stryd teen plaasmoorde wil kaap, doen skade aan ’n geregverdigde saak, terwyl plaasmoordontkenners die stryd probeer diskrediteer deur dit valslik aan randfigure te probeer koppel. Kriel het daarop gewys dat AfriForum daarom doelbewus tydens sy buitelandse veldtog teen plaasmoorde enige skakeling met randfigure en wit nasionaliste ten alle koste vermy.
Diegene wat kommer oor die skending van eiendomsreg en onteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika as vals probeer afmaak, ignoreer volgens Kriel skynbaar die feit dat die Suid-Afrikaanse president, die land se regeringsleiers en die regerende ANC by talle geleenthede uitsprake gemaak het wat bevestig dat hulle daarop uit is om eiendomsreg in die land te skend. Die volgende is voorbeelde hiervan:

  • In Desember 2017 besluit die ANC op sy kongres amptelik om onteiening sonder vergoeding as partybeleid te aanvaar.
  • Op 27 Maart vanjaar het die Suid-Afrikaanse koerant City Press berig dat Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, gesê het dat die regering nie wil wag totdat die Grondwet gewysig word nie en dat haar departement ’n toetssaak voorberei om grond sonder vergoeding te onteien. Sy het voorts aangedui dat haar departement reeds die grond geïdentifiseer het wat hulle wil onteien, maar dat sy nie die lys van plaasname bekend gaan maak nie, omdat dit die betrokke eienaars sou waarsku om vir regsaksies voor te berei. Die minister het nooit die inhoud van hierdie artikel betwis nie en dit word dus aanvaar as die korrekte weergawe van wat sy gesê het.
  • Op 31 Julie 2018 maak pres. Cyril Ramaphosa ’n laatnagaankondiging op televisie dat hy en die ANC besluit het om wel voort te gaan om die Suid-Afrikaanse Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Dié aankondiging was die tiende keer dat Ramaphosa sy steun vir onteiening sonder vergoeding in die openbaar uitspreek. Hierdie aankondiging is gemaak terwyl die Suid-Afrikaanse parlement se openbaredeelnameproses nog nie afgehandel was nie, wat dié deelnameproses tot ’n klug reduseer. Buitelandse druk is daarom nou van kardinale belang.
  • Op 5 Augustus vanjaar verskyn nóg ’n artikel in City Press wat aandui dat die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming in opdrag van die ANC 139 plase geïdentifiseer het wat sonder vergoeding onteien kan word. Zizi Kodwa, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), word breedvoerig in dié artikel aangehaal. Ook dié artikel se inhoud is nie deur die ANC betwis nie. Op dieselfde dag berig The Sunday Times (’n Suid-Afrikaanse koerant) dat die ANC volgens dié party se woordvoerder Ronald Lamola 139 plase geïdentifiseer het wat as “onteieningsteikens” sal dien.
  • Die ANC en regering se onteieningsplanne het ongelukkig ’n rassekleur gekry toe David Mabuza, Suid-Afrika se adjunkpresident, op 6 April vanjaar in Pretoria gesê het dat wit boere vrywillig van hulle grond moet afstand doen ten einde ’n gewelddadige oorname te verhoed.
  • Pres. Ramaphosa het ook in die openbaar verklaar dat onteiening sonder vergoeding nodig is sodat die grond vir “ons mense” gegee kan word. Die gevolgtrekking kan dus gemaak word dat die president nie alle mense as deel van sy mense beskou nie.
  • Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, se uitspraak op 7 Julie vanjaar dat geen swart persoon of swart groep se eiendom onteien sal word nie, het ’n verdere rassedimensie aan die regering se onteieningsplanne gegee.

AfriForum se ontleding van die feite tot sy beskikking dui volgens Kriel daarop dat die staat nóú eers begin het om plase te onteien teen ’n vergoeding wat aansienlik laer as die markwaarde daarvan is. Die voorgenome onteieningsproses van ’n plaas genaamd Akkerland Boerdery in Limpopo, waarvan die eienaar kennis gekry het om sy plaas binne sewe dae te ontruim, het reeds begin.

“Die staat bied die eienaar slegs 10% van die grond se markwaarde aan as vergoeding. Sou hierdie onteiening slaag, sal dit opsigself reeds op ’n ernstige skending van eiendomsreg neerkom, en sal dit die weg baan vir pres. Ramaphosa se aangekondigde plan om die Grondwet te wysig om eiendom uiteindelik sonder enige vergoeding te kan onteien,” sê Kriel.

Kriel het ook daarop gewys dat die ANC vals statistiek oor grondeienaarskappatrone in Suid-Afrika gebruik om sy skending van eiendomsreg te probeer regverdig.

“Dit is ’n onwaar dat sogenaamde “wit” boere 72% van grond in Suid-Afrika besit. Volgens PoliticsWeb se ontleding staan die syfer eerder op sowat 22% van Suid-Afrika se totale oppervlak.”

Skakels na PoliticsWeb se artikels:
http://www.politicsweb.co.za/opinion/news24s-dodgy-farm-murder-report
http://www.politicsweb.co.za/politics/farm-murders-factchecking-the-factcheckers
http://www.politicsweb.co.za/opinion/ramaphosa-and-the-effs-dodgy-land-stats
 

Soortgelyke plasings