Tshwane-metro implementeer verhoogde elektrisiteitstarief sonder Nersa se goedkeuring


Die Tshwane-metro het op Maandag 1 Julie 2019 ’n verhoogde tarief wat nie deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) goedgekeur is nie, geïmplementeer. Dit volg nadat Nersa op 28 Junie besluit het dat die voorgestelde tarief nie geïmplementeer kan word alvorens verdere inligting verskaf word en Nersa sy prosesse kan implementeer nie.

Kragtens artikel 14 van die Elektrisiteitsreguleringswet, 2006 (wetno. 4 van 2006) mag die munisipaliteit nie sonder Nersa se goedkeuring ’n verhoogde elektrisiteitstarief implementeer nie.

Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria, sê dit is egter nie die geval nie. “Tshwane-metro het ondanks Nersa se besluit met die implementering van die verhoogde tarief voortgegaan. Die metro het ’n eensydige besluit geneem wat nie die inwoners van Pretoria in ag neem nie.”

Grobbelaar spreek verder ook sy bekommernis uit oor die geïmplementeerde tarief. “Almal is tans onseker hieroor. Die feit dat drie verskillende tariefverhogings reeds bekend gemaak is en dat die raad verlede Donderdag weer op ’n tarief besluit het, laat almal in die duister oor die eintlike tarief wat geïmplementeer is. Die Tshwane-metro speel ook nie oop kaarte met die publiek nie en versuim om terugvoer op enige van die skrywes wat AfriForum aan hulle gestuur het, te gee.”
AfriForum sal voortgaan om met sy regspan te konsulteer om te verseker dat die regte prosesse gevolg word en dat die verhoogde tarief wel billik is.
AfriForum doen ’n beroep op die inwoners van Pretoria om betrokke te raak om dié onbillike proses tersyde te stel. Voeg jou stem by die klagte deur hierdie skakel te volg en help om AfriForum se hand sterker te maak: https://afriforum.co.za/tshwane-elektrisiteitverhogings-afriforum-staan-dit-teen/.

Soortgelyke plasings