Tshwane Metro se vullisverwyderingsheffing teenstrydig met Grondwet – AfriForum


AfriForum het vandag ’n skrywe aan die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit gerig waarin dié burgerregte-organisasie eis dat die munisipaliteit nie voortgaan met die implementering van ’n vullisverwyderingsheffing nie, omdat dit ongrondwetlik is. Dié heffing sal beteken dat belastingbetalers vanaf Januarie 2018 ’n bykomende maandelikse bedrag van R127,04 vir residensiële eiendomme en R2 911,67 vir besigheidseiendomme vir vullisverwydering gaan moet betaal.

“Hierdie is nie ’n diensheffing nie, maar eerder ’n diens wat belas word. Mense word belas vir toegang tot ’n diens en nie die gebruik daarvan nie. Wanneer ’n munisipaliteit ekstra belasting wil hef, moet hulle die minister van finansies se toestemming kry, maar AfriForum kon dit nie in hierdie geval bevestig nie. Sekere gebiede het nie eers toegang tot vullisverwyderingsdienste nie, maar gaan ook die heffing moet betaal. Só ’n heffing is onredelik en teenstrydig met die Grondwet en munisipale wetgewing,” sê Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake.

AfriForum het vasgestel dat hierdie heffing nie in die munisipaliteit se strategiese beplanningsdokument voorkom nie en dié dokument toon verder dat die publiek nie vooraf hiervan verwittig is nie.

“Dit is tekenend daarvan dat die munisipaliteit bykomende fondse wil invorder wat buite hul begrotingsraamwerk val.”

Die munisipaliteit het hierdie heffing aanvanklik in Julie/Augustus vanjaar gehef, maar in ’n verklaring verduidelik dat dié heffing foutiewelik gedoen is en dat belastingbetalers wat hierdeur geraak is daarvoor vergoed sou word. Verbruikers kan dié rekeninge in terme van artikel 102 van die Munisipale Stelselswet (wetno. 32 van 2000) by die metroraad betwis.
AfriForum het terugvoer op die skrywe teen 19 Desember 2017 versoek.

Soortgelyke plasings