|

Tshwane-metroraad moet Rooiwal-rioolwerke vroeg in 2017 herstel

AfriForum se Apiesrivier-tak het vandeesweek in die Pretoriase hooggeregshof ’n dringende bevel bekom wat die Tshwane-metroraad dwing om instandhoudingswerk by die Rooiwal-rioolaanleg te doen.

Dít volg nadat dié munisipaliteit versuim het om te reageer op die burgerregte-organisasie se memorandum waarin op ʼn aksieplan aangedring is rakende grootskaalse rioolbesoedeling in die Apiesrivier.

Lede van AfriForum se Apiesrivier-tak het op 7 Julie sowat 10 kg vlieë, rioolvuil en ʼn memorandum by Tshwane se hoofkantoor oorhandig as ʼn protesaksie teen die onbehandelde riool by die Rooiwal-rioolwerke.

Weens besoedeling is die Apiesrivier en die ondergrondse water in die landelike gebied besoedel en is die sowat 100 ha grond waar die onbehandelde slik gestort word, ’n ideale broeiplek vir vlieë wat groot gesondheidsrisiko’s vir inwoners en die omgewing inhou.

Luidens mediaberigte het die munisipaliteit ontken dat AfriForum met hulle gekommunikeer het rakende die rioolprobleem by Apiesrivier, ondanks die feit dat lede van die Tshwane Metropolisie die burgerregte-organisasie se memorandum namens die munisipale direksie op 7 Julie ontvang het.

“Die metroraad moet die saak regstel. Niemand hoef met stank, vlieë en besoedeling saam te leef nie. Boonop ly gemeenskappe wat langs die rioolaanleg en verder af langs die Apiesrivier woon ook onder dié waterbesoedeling,” sê Tarien Cooks, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Gauteng-Noord.

Die hofbevel bepaal dat die instandhoudingswerk teen 31 Januarie 2017 afgehandel moet wees. Die metroraad moet ook teen 5 Februarie 2017 terugvoer aan die hof gee oor die stand van sake by dié aanleg.

Die Tshwane-metroraad het in ’n skrywe aan AfriForum se regspan die aard van die instandhoudingswerk uiteengesit wat hulle gaan doen. Die metroraad sal ook hiervolgens gemeet word wanneer die sperdatum ingevolge die bevel aanbreek.

“Die rioolaanleg het sedert verlede jaar baie agteruitgegaan, aangesien geen instandhoudingswerk gedoen is nie. Hierdie bevel gee aan die gemeenskap die versekering dat die nodige herstelwerk gedoen gaan word,” sê Theuns Vogel, ’n lid van AfriForum se Apiesrivier-tak.

Soortgelyke plasings